hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3

Ou Testament

Nuwe Testament

Titos 1 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Sha’ul, ’n slaaf van God en ’n afgevaardigde van Yeshua, Die Gesalfde Een, in die vertroue van die wat gekies is deur God en van kennis van die waarheid wat in respekvolle eerbied tot God is,

2. in die versekerde verwagting van die ewige lewe wat die Ware God voor die tyd aan die wêreld beloof het.

3. Hy het op Sy tyd Sy boodskap bekend gemaak deur die verkondiging, wat aan my toevertrou is, deur die opdrag van God, ons Lewegewer.

4. Aan Titos, my ware kind, volgens die innerlike vertroue: onverdiende guns en vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid van God-die-Vader en ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een, ons Lewegewer!

5. Om hierdie rede het ek jou in Krete agtergelaat sodat jy sou regmaak wat kortgekom het en oudstes van stad tot stad sou aanstel soos ek jou beveel het:

6. iemand wat onberispelik is, die man van een vrou is en wat kinders het wat vertrou, wat nie beledigend is nie en nie sonder om hulle te onderwerp, immoreel leef nie,

7. want ’n oudste moet, as iemand oor die huis van God aangestel, onberispelik wees, ook nie beheer word deur sy eie denke nie, ook nie ’n slegte humeur hê nie, ook nie ’n oormatige wyndrinker wees nie, ook nie ’n vinnige hand hê om te slaan nie, ook nie onrein rykdom liefhê nie.

8. Daarteenoor moet hy lief wees vir vreemdelinge, lief wees vir die goeie, hy moet beskeie wees, regverdig, afgesonderd, homself weghou van begeertes,

9. die lering van die boodskap van vertroue moet vir hom belangrik wees sodat hy in staat kan wees om met die gesonde leer te versterk en te vertroos, sowel as om dié wat twissoekkerig is te berispe,

10. want daar is baie wat nie gehoorsaam is nie; hulle woorde is leeg en hulle mislei die gedagtes van mense, veral dié wat vanuit die besnydenisleer is.

11. Hulle mond moet gestop word, want hulle vernietig baie huishoudings en leer wat nie reg is nie, ter wille van vuil wins.

12. Een vanuit hulle, hul eie profeet, het gesê: “Die inwoners van Krete is altyd leuenaars, bose wildediere, kinderlose baarmoeders.”

13. Hierdie getuienis wat hy gebring het, is waar; daarom moet jy hulle skerp aanspreek sodat hulle gesond kan wees in vertroueMat 15:9; Mar 7:7,8

14. en hulle nie oorgee aan Joodse fabels en opdragte van mense wat die waarheid haat nie.

15. Alles is rein vir die wat rein is; vir die besoedeldes en ongelowiges is daar niks rein nie; selfs hulle denke en hulle gewete is besoedel.

16. Hulle verklaar dat hulle God ken, maar hulle verwerp Hom deur hulle dade en hulle is vyande, sonder gehoorsaamheid en is verwerp vir elke goeie werk.