Ou Testament

Nuwe Testament

Mattityahu 27:21-34 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

21. Die goewerneur antwoord en sê vir hulle: “Wie van die twee wil julle hê moet ek vir julle vrylaat?” Hulle antwoord: “Bar-Abba!”

22. Pilatos sê vir hulle: “Wat moet ek dan met Yeshua, wat genoem word ‘Die Gesalfde Een,’ doen?” Hulle sê almal vir hom: “Hang Hom aan ’n kruis!”

23. Die goewerneur sê: “Watter boosheid het Hy dan gedoen?” Hulle skreeu egter harder en sê: “Laat Hom gekruisig word!”

24. Toe Pilatos besef dat niks help nie, maar eerder ’n oproer veroorsaak word, het hy water gevat en sy hande voor die skare gewas en gesê: “Ek is onskuldig aan die bloed van hierdie Onskuldige Een; soos julle kan sien”

25. en die hele volk antwoord en sê: “Sy bloed is op ons en op ons kinders!”

26. Toe laat hy Bar-Abba vir hulle vry, maar Yeshua het hy laat gésel met swepe en oorgelewer om gekruisig te word.

27. Daarop neem die goewerneur se soldate Yeshua met hulle saam in die paleiswag se kwartiere in en bring die hele afdeling soldate rondom Hom bymekaar,

28. trek Sy klere uit en gooi ’n skarlaken rooi mantel om Hom.

29. Hulle vleg ’n kroon van dorings en sit dit op Sy kop en ’n riet in Sy regterhand en kniel voor Hom en spot Hom en sê: “Wees gegroet, Koning van die Jode”

30. en hulle spoeg op Hom en gryp die riet en slaan Hom op Sy kop.

31. Nadat hulle Hom gespot het, trek hulle die mantel uit en trek Sy klere vir Hom aan en vat Hom weg om gekruisig te word.

32. Terwyl hulle uitgaan, vind hulle ’n man van Kurene, met die naam van Shim’on en dwing hom om Sy kruis te dra

33. en hulle het gekom by ’n plek wat Gulgolta genoem word; dit beteken: Plek van die Kopbeen.

34. Hulle het vir Hom asyn, met ’n doofmiddel gemeng, gegee om te drink en toe Hy dit proe, wou Hy nie drink nie,

Lees volledige hoofstuk Mattityahu 27