Ou Testament

Nuwe Testament

Mattityahu 27:16-29 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

16. en in daardie tyd het hulle ’n prominente gevangene gehad wat Bar-Abba genoem is.

17. Omdat hulle dan byeengekom het, sê Pilatos vir hulle: “Wie wil julle hê moet ek vir julle vrylaat: ‘Bar-Abba, of Yeshua wat genoem word ‘Die Gesalfde Een’?”

18. Hy het geweet dat hulle Hom uit afguns oorgelewer het.

19. Terwyl hy op die regstoel sit, het sy vrou na hom toe gestuur en gesê: “Moet niks te doen hê met dié Onskuldige Een nie, want ek het vandag in ’n droom baie gely as gevolg van Hom.”

20. Die leierpriesters en die oudstes het die skare oortuig dat hulle Bar-Abba moes vra, maar Yeshua vernietig.

21. Die goewerneur antwoord en sê vir hulle: “Wie van die twee wil julle hê moet ek vir julle vrylaat?” Hulle antwoord: “Bar-Abba!”

22. Pilatos sê vir hulle: “Wat moet ek dan met Yeshua, wat genoem word ‘Die Gesalfde Een,’ doen?” Hulle sê almal vir hom: “Hang Hom aan ’n kruis!”

23. Die goewerneur sê: “Watter boosheid het Hy dan gedoen?” Hulle skreeu egter harder en sê: “Laat Hom gekruisig word!”

24. Toe Pilatos besef dat niks help nie, maar eerder ’n oproer veroorsaak word, het hy water gevat en sy hande voor die skare gewas en gesê: “Ek is onskuldig aan die bloed van hierdie Onskuldige Een; soos julle kan sien”

25. en die hele volk antwoord en sê: “Sy bloed is op ons en op ons kinders!”

26. Toe laat hy Bar-Abba vir hulle vry, maar Yeshua het hy laat gésel met swepe en oorgelewer om gekruisig te word.

27. Daarop neem die goewerneur se soldate Yeshua met hulle saam in die paleiswag se kwartiere in en bring die hele afdeling soldate rondom Hom bymekaar,

28. trek Sy klere uit en gooi ’n skarlaken rooi mantel om Hom.

29. Hulle vleg ’n kroon van dorings en sit dit op Sy kop en ’n riet in Sy regterhand en kniel voor Hom en spot Hom en sê: “Wees gegroet, Koning van die Jode”

Lees volledige hoofstuk Mattityahu 27