Ou Testament

Nuwe Testament

Mattityahu 12:14-33 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

14. Die Fariseërs het uitgegaan en vergader teen Hom, om Hom te vernietig,

15. maar Yeshua het dit geweet en Hy het daarvandaan onttrek en ’n groot klomp mense het saam met Hom gegaan en Hy het hulle almal gesond gemaak

16. en hulle gewaarsku om Hom nie bekend te maak nie

17. sodat dit wat Yesha’yahu die profeet gesê het, vervul sou word toe hy gesê het:

18. “Let op, My Dienskneg in Wie Ek vreugde vind, die Een wat Ek liefhet, waarna My Gees verlang het! Ek sal My Gees op Hom sit en Hy sal oordeel aan die nasies verkondig.

19. Hy sal nie stry of uitroep nie en niemand sal Sy stem op die strate hoor nie.

20. ’n Gekneusde riet sal Hy nie afbreek nie en ’n flikkerende lamp sal Hy nie uitblus nie; Hy sal getrou regverdige oordeel bring enYes 42:1

21. in Sy Outoriteit en Karakter (Naam) sal die nasies versekerde verwagting hê.”

22. Toe het hulle ’n demoonbesetene wat blind en stom was, na Hom toe gebring en Hy het hom gesond gemaak sodat die blinde en stomme kon sien en praat

23. en al die mense was verwonderd en het gesê: “Is Hy nie die Seun van Dawid nie?”

24. Toe die Fariseërs dit egter hoor, sê hulle: “Díe Een dryf nie demone uit nie, behalwe deur Ba’al-Z’vuv, die prins van die demone.”

25. Yeshua het egter hulle denke geken en vir hulle gesê: “Elke koninkryk wat teen homself verdeeld is, word vernietig en elke stad of huis wat teen homself verdeeld is, sal nie bly staan nie

26. en as die teëstander die teëstander uitdryf, dan is hy teen homself verdeeld en hoe kan sy koninkryk dan bly staan?

27. As Ek deur Ba’al-Z’vuv die demone uitdryf, deur wie dryf julle seuns hulle uit? Hieroor sal hulle julle regters wees

28. en as Ek deur die Gees van God die demone uitdryf, dan het die Koninkryk van God naby julle gekom.

29. Of hoe kan iemand in die huis van ’n magtige man ingaan en sy goed plunder, as hy nie eers die magtige man vasgebind het nie? Dán kan hy sy huis plunder.

30. Wie ook al nie saam met My is nie, is teen My en hy wat nie saam met My bymekaarmaak nie, jaag uitmekaar.

31. As gevolg hiervan sê Ek vir julle: ‘Elke sonde en kwaadpraat sal die mense vergewe word, maar die kwaadpraat teen die Gees sal die mense nie vergewe word nie

32. en elkeen wat ’n woord praat teen die Seun van die mens, dit sal hom vergewe word, maar elkeen wat praat teen die Gees van Afsondering, dit sal hom nie vergewe word nie; nie in hierdie wêreld nie en ook nie in die wêreld wat voorberei word nie.’

33. Produseer òf soos ’n goeie boom met goeie vrugte, òf soos ’n slegte boom met slegte vrugte, want die boom word aan sy vrugte geken.

Lees volledige hoofstuk Mattityahu 12