Ou Testament

Nuwe Testament

Markos 8:22-33 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

22. Hy het in Beit-Tzaidah gekom en hulle het ’n blinde man na Hom toe gebring en Hom gesmeek om hom aan te raak.

23. Hy vat die blinde by die hand en lei hom uit buitekant die dorp. Hy spoeg in sy oë en lê hom die hande op en vra vir hom wat hy sien.

24. Hy kyk en sê: “Ek sien die mense soos bome wat loop.”

25. Hy lê weer Sy hand op sy oë en hy is genees en het alles duidelik gesien.

26. Hy het hom na sy huis toe gestuur en gesê: “Moenie in die dorp ingaan of dit aan iemand in die dorp vertel nie.”

27. Yeshua en Sy studentevolgelinge het uitgegaan na die dorpe van Kaisareia-Filippoi en op die pad vra Hy Sy studentevolgelinge en sê vir hulle: “Wat sê die mense van My; Wie Ek is?”

28. “Sommige sê Yoganan, die Doper en ander: Eliyahu, maar ander: Een van die profete.”

29. Yeshua sê vir hulle: “Maar julle, wie sê julle is Ek?” Shim’on antwoord en sê vir Hom: “U is Die Gesalfde Een, die Seun van die Lewende God.”

30. Hy het hulle verbied om enige iemand van Hom te vertel.

31. Hy het hulle begin leer dat die Seun van die mens voorbereid is om baie dinge te ly en verwerp te word deur die oudstes, leierpriesters en leraars van die wet en doodgemaak sal word en ná drie dae opstaan.

32. Hierdie boodskap het Hy openlik en duidelik gebring en Kefa het Hom eenkant gevat en Hom begin aanspreek,

33. maar Hy het Hom omgedraai en terwyl Hy Sy studentevolgelinge aankyk, het Hy Kefa bestraf en gesê: “Gaan weg agter My, teëstander, want jy bedink nie die dinge van God nie, maar dié van mense!”

Lees volledige hoofstuk Markos 8