Ou Testament

Nuwe Testament

Markos 2:14-28 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

14. Toe Hy verbygaan, sien Hy vir Levi, die seun van Halfai, by die plek van belastinginvordering sit en Hy sê vir hom: “Volg My” en hy het opgestaan en Hom gevolg.

15. Dit was terwyl Hy in sy huis aan tafel skuinsgelê het vir ete dat baie belastinggaarders en sondaars gekom en saam met Yeshua en Sy studentevolgelinge aan tafel skuinsgelê het, want daar was baie wat Hom gevolg het.

16. Toe die leraars van die wet en die Fariseërs Hom saam met die belastinggaarders en sondaars sien eet, sê hulle vir Sy studentevolgelinge: “Hoe is dit dat Hy saam met die belastinggaarders en sondaars eet en drink?”

17. Toe Yeshua hulle hoor, sê Hy vir hulle: “Die wat gesond is, het nie ’n behoefte aan die dokter nie, maar die wat siek is, het sieker geword. Ek het nie gekom om die onskuldiges te roep nie, maar sondaars.”

18. Die studentevolgelinge van Yoganan en dié van die Fariseërs was besig om te vas en hulle kom en sê vir Hom: “Waarom vas die studentevolgelinge van Yoganan en dié van die Fariseërs, maar U studentevolgelinge vas nie?”

19. Yeshua sê vir hulle: “Kan die lede van die bruidsgroep vas terwyl die Bruidegom by hulle is? Nee,

20. maar daar sal dae kom wanneer die Bruidegom van hulle af weggevat word en in daardie dae sal hulle vas.

21. Niemand werk ’n nuwe stuk lap op ou klere nie; anders skeur sy nuwe stuk heeltemal van die oue af en daar kom ’n erger skeur

22. en niemand gooi nuwe wyn in ou leersakke nie; anders sal die nuwe wyn die sakke laat bars en die wyn uitloop en die sakke vergaan, maar jy gooi nuwe wyn in nuwe sakke.”

23. Dit was toe Yeshua op die Shabbat deur die graanland geloop het dat Sy studentevolgelinge geloop en are afgepluk het

24. en die Fariseërs sê vir Hom: “Let op, waarom doen hulle op die Shabbat wat nie volgens die wet is nie?”

25. Yeshua sê vir hulle: “Het julle nooit gelees wat Dawid gedoen het toe hy in ’n groot nood was en hy en die wat by hom was, honger was nie?

26. Hoe hy in die huis van God ingegaan het, toe Evyatar die hoofpriester was en die brode van die altaar van יהוה geëet het, wat niemand, volgens die wet, behalwe die priesters mag eet nie en ook vir die wat saam met hom was, gegee het?”

27. Hy sê vir hulle: “Die Shabbat is gemaak vir die mens, nie die mens vir die Shabbat nie;

28. daarom is die Seun van die mens ook Meester van die Shabbat.”

Lees volledige hoofstuk Markos 2