Ou Testament

Nuwe Testament

Luka 24:33-50 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

33. Toe staan hulle dadelik op en gaan terug na Yerushalayim en vind die elf en die wat saam met hulle bymekaar was,

34. wat sê: “Ons Meester het waarlik opgestaan en aan Shim’on verskyn.”

35. Hulle het ook vertel wat op die pad gebeur het en hoe Hy aan hulle bekend geword het by die breking van die brood.

36. Terwyl hulle hierdie dinge vertel, staan Yeshua tussen hulle en Hy sê vir hulle: “Vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid vir julle! אנא אנא - Ek is, was, sal wees Wie Ek is, was, sal wees, moenie bang wees nie.”

37. Hulle het geskrik, was in vrees en het gedink dat hulle ’n gees sien.

38. Yeshua sê vir hulle: “Waarom is julle geskud en kom daar allerhande gedagtes by julle op?

39. Kyk na My hande en My voete, dat dit אנא אנא - Ek is, was, sal wees Wie Ek is, was, sal wees. Vat aan My en wees seker, want ’n gees het nie vleis en bene soos julle sien dat Ek het nie.”

40. Toe Hy hierdie dinge gesê het, wys Hy vir hulle Sy hande en Sy voete

41. en steeds het hulle, van vreugde, nie geglo nie en hulle verwonder en Hy sê vir hulle: “Het julle iets hier om te eet?”

42. Toe gee hulle vir Hom ’n stuk gebraaide vis en ’n heuningkoek

43. en Hy het dit gevat en voor hulle geëet.

44. Hy sê vir hulle: “Hierdie is die boodskap wat Ek met julle gedeel het toe Ek nog by julle was, dat alles wat oor My geskrywe is in die wet van Moshe, die Profete en die Psalms, volledig gemaak moet word.”

45. Toe maak Hy hulle verstand oop om die Skrifte te verstaan

46. en Hy sê vir hulle: “So is dit geskrywe en dit was reg dat dit so gebeur: Die Gesalfde Een moes ly en op die derde dag uit die dood uit opstaan

47. en in Sy Karakter en Outoriteit (Naam) moet die erken, berou en wegdraai tot vergifnis van sonde verkondig word in al die nasies, beginnende by Yerushalayim

48. en julle is getuies van hierdie dinge.

49. Ek sal die Belofte van My Vader oor julle stuur, maar julle moet in die stad Yerushalayim bly totdat julle aangetrek is met wonderwerkende Krag van Bo.”

50. Hy het hulle gevat tot by Beit-Anyah en Hy het Sy hande opgelig en hulle geseën

Lees volledige hoofstuk Luka 24