Ou Testament

Nuwe Testament

Luka 24:25-45 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

25. Toe sê Yeshua vir hulle: “O, onverstandiges, met verstand, wil en emosie wat stadig is om alles wat die profete gesê het te vertrou!

26. Moes Die Gesalfde Een nie hierdie dinge deurgaan en in Sy Gemanifesteerde Teenwoordigheid ingaan nie?”

27. Hy het begin om vanaf Moshe en al die profete vir hulle uit al die Skrifte, die dinge wat op Hom betrekking het, deeglik te verduidelik

28. en toe hulle naby die dorp kom waarheen hulle op pad was, het Hy aangekondig dat Hy na ’n plek verder gaan.

29. Hulle het Hom teruggehou en vir Hom gesê: “Bly by ons, want die dag is besig om verby te gaan en dit word donker” en Hy het ingegaan om by hulle te bly.

30. Dit het gebeur dat toe Hy saam met hulle aan tafel skuinslê, Hy die brood vat, dank, dit breek en dit aan hulle gee.

31. Onmiddellik het hulle oë oopgegaan en hulle het Hom herken en Hy het van voor hulle af opgegaan.

32. Hulle sê vir mekaar: “Was ons verstand nie onnosel in ons toe Hy met ons op die pad gepraat en vir ons die Skrifte oopgemaak het nie?”

33. Toe staan hulle dadelik op en gaan terug na Yerushalayim en vind die elf en die wat saam met hulle bymekaar was,

34. wat sê: “Ons Meester het waarlik opgestaan en aan Shim’on verskyn.”

35. Hulle het ook vertel wat op die pad gebeur het en hoe Hy aan hulle bekend geword het by die breking van die brood.

36. Terwyl hulle hierdie dinge vertel, staan Yeshua tussen hulle en Hy sê vir hulle: “Vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid vir julle! אנא אנא - Ek is, was, sal wees Wie Ek is, was, sal wees, moenie bang wees nie.”

37. Hulle het geskrik, was in vrees en het gedink dat hulle ’n gees sien.

38. Yeshua sê vir hulle: “Waarom is julle geskud en kom daar allerhande gedagtes by julle op?

39. Kyk na My hande en My voete, dat dit אנא אנא - Ek is, was, sal wees Wie Ek is, was, sal wees. Vat aan My en wees seker, want ’n gees het nie vleis en bene soos julle sien dat Ek het nie.”

40. Toe Hy hierdie dinge gesê het, wys Hy vir hulle Sy hande en Sy voete

41. en steeds het hulle, van vreugde, nie geglo nie en hulle verwonder en Hy sê vir hulle: “Het julle iets hier om te eet?”

42. Toe gee hulle vir Hom ’n stuk gebraaide vis en ’n heuningkoek

43. en Hy het dit gevat en voor hulle geëet.

44. Hy sê vir hulle: “Hierdie is die boodskap wat Ek met julle gedeel het toe Ek nog by julle was, dat alles wat oor My geskrywe is in die wet van Moshe, die Profete en die Psalms, volledig gemaak moet word.”

45. Toe maak Hy hulle verstand oop om die Skrifte te verstaan

Lees volledige hoofstuk Luka 24