Ou Testament

Nuwe Testament

Luka 11:33-47 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

33. Niemand steek ’n lamp op en sit dit in ’n geheime plek of sit dit onder die mandjie nie, maar op die lampstaander sodat dié wat inkom, sy lig kan sien.

34. Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog dan helder is, is jou hele liggaam ook verlig, maar as dit boos is, is jou liggaam vol duisternis.

35. Wees versigtig dat die lig in jou nie duisternis is nie.

36. As jou hele liggaam dan vol lig is en nie enige deel het wat donker is nie, sal dit heeltemal helder wees en net soos ’n helder lamp vir jou lig gee.”

37. Terwyl Hy praat, het ’n sekere Fariseër Hom genooi om by hom te kom eet en Hy het ingegaan en aan tafel gaan skuinslê.

38. Toe die Fariseër dit sien, was hy verwonderd omdat Hy nie voor die maaltyd eers gewas het nie,

39. maar Yeshua sê vir hom: “Nou, julle Fariseërs, julle maak die buitekant van die beker en die bord skoon, maar aan die binnekant is julle vol verkragting en boosheid.

40. Dwase, het Hy wat die buitekant gemaak het, nie die binnekant ook gemaak nie?

41. Nogtans, wat jy ook al het, gee dit as aalmoese en let op, alles sal vir jou rein wees.Deut 14:22; Mat 23:23

42. Tog, wee julle, Fariseërs, want julle gee tiendes van kruisement, wynruit (dille) en elke soort krui en julle ignoreer die regverdige oordeel en die liefde van God. Hierdie dinge moet julle doen sonder om die ander na te laat.

43. Wee julle, Fariseërs, want julle is lief vir die eersteklas sitplekke in die bymekaarkomplekke en vir die openbare groete op straat.

44. Wee julle, leraars van die wet en Fariseërs, toneelspelers van ’n vals karakter, want julle is net soos versteekte grafte en die mense wat daaroor loop, weet dit nie.”

45. Toe antwoord een van die kenners van die wet en sê vir Hom: “Leermeester, as U só praat, beledig U ons ook.”

46. Hy sê: “Wee julle ook, kenners van die wet, want julle oorlaai die mense met laste wat pynlik is om te dra en self verroer julle nie een vinger om te help nie.

47. Wee julle, want julle bou die grafte van die profete en julle vaders het hulle gedood.

Lees volledige hoofstuk Luka 11