Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 9:32-43 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

32. Toe Shim’on oral rondgegaan het, het hy ook gekom by die afgesonderdes wat in Lud bly

33. en het ’n sekere man daar gekry met die naam van Aeneas, wat verlam en reeds agt jaar lank bedlêend was.

34. Shim’on sê vir hom: “Aeneas (geteisterde), Yeshua, Die Gesalfde Een, maak jou gesond; staan op en maak jou bed reg!” Hy het onmiddellik opgestaan

35. en al die inwoners van Lud en die Sharon het gesien en hulle het omgedraai na God toe.

36. In Yafo was daar ’n studentevolgeling met die naam van Tavita, wat ryk was in omgee vir ander en van goeie dade wat sy gedoen het,

37. maar in dié dae het sy siek geword en is dood en hulle het haar gewas en in ’n boonste vertrek neergelê.

38. Lud is langs Yafo en die studentevolgelinge het gehoor dat Shim’on daar was en het twee manne na hom toe gestuur wat hom moes smeek om sonder uitstel na hulle toe te kom.

39. Shim’on het opgestaan en saam met hulle gegaan. Toe hy daar kom, bring hulle hom in die boonste vertrek en al die weduwees kom by hom staan en huil en wys hom die jasse en klere wat Tavita vir hulle gemaak het toe sy nog by hulle was.

40. Shim’on het almal buitentoe gestuur, gekniel en gebid en hy het hom na die liggaam gedraai en gesê: “Tavita, staan op!” Sy het haar oë oopgemaak, vir Shim’on gesien en regop gesit.

41. Hy gee haar sy hand en laat haar opstaan. Daarop roep hy die afgesonderdes en die weduwees en gee haar lewendig vir hulle

42. en dit het bekend geword in die hele stad en baie het in ons Meester vertrou.

43. Hy het ’n geruime tyd by ’n sekere Shim’on, ’n leerlooier, in Yafo gebly.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 9