Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 4:26-37 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

26. Die konings van die aarde het opgestaan en die leiers het as een vergader teen יהוה en teen Sy Gesalfde,’

27. want Herodes en Pontios Pilatos, saam met nasies en die mense van Yisra’el het waarlik in hierdie stad vergader teen U afgesonderde Seun Yeshua, wat U gesalf het

28. om alles te doen wat U hand en U doel vooruit bepaal het om te gebeur.

29. Ook nou, יהוה, let op na hulle dreigemente en gee aan U diensknegte om openlik U boodskap te verkondig,

30. deurdat U U hand uitsteek om genesing, wonderwerke en tekens deur die Outoriteit en Karakter van U Afgesonderde Seun, Yeshua, te gee.”

31. Terwyl hulle bid en ernstig smeek, is die plek geskud waar hulle saam was en hulle is elkeen volgemaak met die Gees van Afsondering en het die boodskap van God openlik verkondig.

32. Die groot groep mense wat vertrou het, was een van gedagte, wil, emosie en van gees en nie een het sy besittings vir homself toegeeïen nie, maar almal het alles met mekaar gedeel.

33. Met groot wonderwerkende krag het die afgevaardigdes aangehou getuig van die opstanding van Yeshua, Die Gesalfde Een en groot guns was oor hulle almal.

34. Niemand van hulle was behoeftig nie, want almal wat grond of huise besit het, het dit verkoop en die opbrengs van wat verkoop is, gebring

35. en aan die voete van die afgevaardigdes neergesit en dit is uitgedeel aan elkeen, volgens wat hy nodig gehad het.

36. So het ook Yosef, wie se bynaam onder die afgevaardigdes Bar-Nabba was, wat beteken seun van vertroosting, ’n Leviet van geboorte, vanaf Kupros,

37. ’n stuk grond gehad en dit verkoop en die geld gebring en aan die voete van die afgevaardigdes neergesit.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 4