hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28

Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 27 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Festos het aangaande hom bevel gegee dat hy na die keiser gestuur moet word in Italië en hulle het Sha’ul en die ander gevangenes saam met hom, oorgegee aan ’n kaptein oor ’n honderd van die keiserlike regiment, met die naam van Youlios.

2. Toe dit tyd was vir ons om te gaan, het ons aan boord ’n skip van Adramuttenos gegaan, wat op pad was na die gebied van Asië en Aristargos van Makedonia, ’n man van Thessalonike, het saam met ons opgeklim.

3. Die volgende dag het ons by Tzidon aangeland en Youlios het Sha’ul met omgee behandel en hom toegelaat om na sy vriende toe te gaan en verfris te word.

4. Daarvandaan het ons weggeseil, onderkant Kupros verby omdat die winde teen ons was.

5. Ons het ook die see langs Kilikia en Pamfulia deurgevaar en by Mura in Lukia aangekom.

6. Daar het die kaptein oor honderd ’n skip van Alexandria gekry, wat na Italië sou vaar en ons daarop gesit,

7. maar ons het baie dae lank stadig gevaar en met moeite regoor die eiland Knidos gekom en omdat die wind ons nie toegelaat het nie, onderkant Krete langs gevaar, oorkant die stad Salmone.

8. Toe ons dit met moeite verbygeseil het, kom ons by ’n plek wat Mooihawens genoem word, naby die stad Lasaia,

9. maar omdat baie tyd verbygegaan het, dit al gevaarlik geword het om te seil en die vasdag van ‘Yom-Kippur’ ook al verby was, het Sha’ul aanbeveel

10. en gesê: “Manne, ek het gesien dat die reis met beserings en groot skade gepaard sal gaan, nie alleen vir die vrag en die skip nie, maar ook vir ons lewens.”

11. Die kaptein oor ’n honderd het egter meer na die skeepskaptein en die eienaar geluister as na die woorde van Sha’ul.

12. Omdat die hawe nie geskik was om daar te oorwinter nie, het die meerderheid ook aangeraai om daarvandaan weg te vaar en indien moontlik Foinix, ’n hawe in Krete, wat ooplê na die suide, te bereik om te oorwinter.

13. Toe die suidewind waai, het hulle gedink dat hulle hul plan kon uitvoer en die ankers gelig en teen Krete verbygeseil,

14. maar nie lank daarna nie is ’n tifoonwind wat Tifoon Eurokludon genoem is, op ons neergegooi.

15. Toe die skip vasgevang is en nie teen die wind kon opseil nie, het ons dit aan die wind se hande oorgegee,

16. maar toe ons onderkant ’n eilandjie kom wat Klaude genoem word, kon ons slegs met kragtige moeite die reddingsbootjie onder beheer hou

17. en nadat hulle dit opgetrek het, het hulle toue gebruik om die skip onderom vas te bind en omdat hulle bang was om op die sandbanke te lande te kom, het hulle die seile laat sak en so rondgedrywe.

18. Terwyl ons die volgende dag geweldig deur die storm geteister is, het ons van die vrag oorboord gegooi

19. en op die derde dag het ons met ons eie hande die skeepstoerusting oorboord gegooi.

20. Omdat die storm baie dae lank geduur het en nie die son, die maan of die sterre vir baie dae lank geskyn het nie, is eindelik alle hoop om gered te word, verloor.

21. Toe hulle nie in staat was om die saak te beheer nie, het Sha’ul tussen hulle opgestaan en gesê: “Manne, as julle my vertrou het en nie van Krete afgevaar het nie, sou hierdie ramp en skade gespaar gewees het,

22. maar nou vermaan ek julle om moed te hou, want daar sal hoegenaamd geen verlies van lewe onder julle wees nie, maar alleen van die skip,

23. want daar het in hierdie nag ’n boodskapper van die God aan Wie ek behoort en wat ek ook dien, by my gestaan

24. en hy het gesê: “Moenie bang wees nie, Sha’ul; jy moet voor die keiser staan. Let op, God het almal wat saam met jou vaar as ’n guns aan jou gegee;

25. daarom, hou moed, manne, want ek vertrou God dat dit so sal wees soos vir my gesê is,

26. maar ons moet op ’n sekere eiland strand.”

27. Op die veertiende nag terwyl ons nog in die Adriatiese See ronddrywe, het die matrose omtrent middernag vermoed dat hulle naby land is

28. en hulle het die anker uitgegooi en ses en dertig en ’n half meter gekry en nadat hulle ’n bietjie verder gegaan het, sewe en twintig en ’n half meter.

29. Omdat hulle bang was dat hulle miskien op rotsagtige plekke kon strand, het hulle van die agterskip af vier ankers uitgegooi en gewens dat dit dag moet word.

30. Die matrose het egter probeer om van die skip af te vlug en die reddingsbootjie in die see laat sak onder die voorwendsel dat hulle die skip aan land wou vasmaak.

31. Toe Sha’ul dit sien, sê hy vir die kaptein oor ’n honderd en die soldate: “As hierdie manne nie op die skip bly nie, kan julle nie gered word nie.”

32. Daarop het die soldate die toue van die reddingsbootjie afgekap en hom laat dryf,

33. maar teen dagbreek het Sha’ul almal aangemoedig om te eet en gesê: “Dit is vandag die veertiende dag van gevaar sonder dat julle iets geëet het;

34. daarom vra ek julle om kos te eet, vir die behoud van julle lewe, want van niemand onder julle sal ’n haar van sy kop afval nie.”

35. Toe hy dit gesê het, vat hy brood, dank God in die teenwoordigheid van almal, breek dit en begin eet

36. en hulle het almal moed geskep en kos geëet.

37. Ons was altesaam twee honderd ses en sewentig mense op die skip.

38. Nadat hulle met kos versadig is, het hulle die skip ligter gemaak deur die graan in die see te gooi.

39. Toe dit dag word, het die matrose die land nie herken nie, maar hulle het ’n baai gesien wat ’n strand het, waarop hulle van plan was om die skip te laat strand as hulle kon.

40. Hulle het die ankers losgemaak en in die see gelos en terselfdertyd die roertoue losgemaak. Hulle het die klein bo-seil teen die wind opgetrek en op die strand afgestuur

41. en die skip het op ’n prominente plek gestrand tussen twee diep kanale van die see en die skip was vas. Die voorskip het vasgeraak en onbeweeglik bly sit, maar die agterskip is deur die geweld van die branders uitmekaargeslaan.

42. Die soldate wou die gevangenes doodmaak sodat niemand kon wegswem en ontsnap nie,

43. maar die kaptein oor honderd wou Sha’ul red en het hulle gekeer in hulle voorneme en beveel dat die wat kon swem, eerste in die see moes spring om aan land te kom

44. en die ander, sommige op planke en sommige op stukke van die skip. Op die manier het almal veilig aan land gekom.