Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 21:11-30 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

11. en hy het by ons gekom en Sha’ul se leer gordel gevat en sy eie hande en voete vasgebind en gesê: “Dít sê die Gees van Afsondering: so sal die Y’hudahiete die man wie se leer gordel hierdie is, in Yerushalayim vasbind en in die hande van die ander nasies oorgee.”

12. Toe ons dit hoor, het ons saam met die mense van die plek by hom aangedring om nie op te gaan na Yerushalayim nie,

13. maar Sha’ul het geantwoord: “Wat doen julle deur te huil en my gedagtes, wil en emosie te verkrummel? Ek is bereid om nie alleen gebind te word nie, maar ook om in Yerushalayim dood te gaan ter wille van die Outoriteit en Karakter van ons Meester, Yeshua!”

14. Toe hy dan nie oor te haal was nie, was ons stil en het gesê: “Laat dit wees volgens die wil van ons Meester!”

15. Ná hierdie tyd het ons voorberei om na Yerushalayim op te gaan

16. en van die studentevolgelinge van Kaisareia het ook saam met ons gegaan en ons by ’n sekere Mnason van Kupros gebring, een van die eerste studentevolgelinge, om ons in sy huis te ontvang.

17. Toe ons in Yerushalayim kom, het die broers ons met blydskap ontvang

18. en die volgende dag het Sha’ul saam met ons na Ya’akov se huis gegaan en al die oudstes was daar bymekaar.

19. Nadat ons groete oorgedra het, het hy alles vertel wat God onder die ander nasies deur sy bediening gedoen het.

20. Toe hulle dit hoor, het hulle God geloof en vir hom gesê: “Jy sien, broer, hoeveel tienduisendtalle Jode daar is wat tot vertroue gekom het en almal is ywerig vir die wet.

21. Dit is, aangaande jou, aan hulle vertel dat jy al die Jode onder die ander nasies leer om hulle af te sonder van Moshe deur te sê dat hulle hul kinders nie moet besny nie en ook nie volgens die gebruike van die wet moet leef nie.

22. Omdat hierdie dinge deur hulle wat hierheen kom, gehoor is,

23. doen dan wat ons vir jou sê. Ons het vier manne wat ’n gelofte gedoen het tot reinheid;

24. vat hulle en reinig jou saam met hulle en betaal die kostes vir hulle sodat hulle hul koppe kan skeer en almal kan weet dat daar niks, in wat van jou vertel word, is nie, maar dat jy self ook die wet uitvoer en gehoorsaam.

25. Aangaande die wat vertrou uit die ander nasies het ons geskryf en besluit dat hulle hulle moet weghou van afgodsoffers, van seksuele immoraliteit, van bloed en van wat verwurg is.”

26. Toe het Sha’ul die manne gevat en op die volgende dag hom saam met hulle gereinig en in die tempel gegaan om bekend te maak tot wanneer die dae van die reiniging sou aanhou en die offer vir elkeen van hulle gebring moes word.

27. Toe die sewende dag aanbreek, het die Jode van Asië hom in die tempel gesien en al die mense opgesweep en die hande aan hom geslaan

28. en geskree: “Manne van Yisra’el, help! Dit is die man wat in al die plekke aan almal dinge leer teen ons mense, die wet en hierdie plek. Hy het ook nie-Jode in die tempel ingebring en hierdie afgesonderde plek onrein gemaak,

29. want hulle het Troļ¬mos, die Efesiër, vantevore in die stad by hom gesien en gedink dat Sha’ul hom in die tempel ingebring het.

30. Toe kom die hele stad in oproer en die mense het gehardloop en vir Sha’ul gegryp en hom uit die tempel uitgesleep en dadelik die deure gesluit,

Lees volledige hoofstuk Handelinge 21