Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 16:24-36 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

24. Toe hy só ’n bevel ontvang, het hy hulle in die binneste tronksel gegooi en hulle voete in die houtblok vasgemaak.

25. In die middel van die nag was Sha’ul en Sila besig om te bid en tot God te sing en die gevangenes het na hulle geluister.

26. Skielik kom daar ’n groot aardbewing sodat die fondasies van die tronk geskud het en onmiddellik het al die deure oopgegaan en almal se boeie het losgeval.

27. Toe die tronkbewaarder wakker word en hy sien dat die deure van die tronk oop is, het hy ’n swaard gevat en wou homself doodmaak omdat hy gedink het dat die gevangenes ontsnap het,

28. maar Sha’ul het met ’n harde stem geroep en gesê: “Moenie jouself kwaad aandoen nie, want ons is almal hier.”

29. Hy het ’n lamp aangesteek, na binne gespring en bewend voor Sha’ul en Sila neergeval

30. en hy het hulle na buite gebring en gesê: “My meesters, wat moet ek doen sodat ek kan lewe?”

31. Hulle sê vir hom: “Vertrou in ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een en jy sal lewe, jy en jou huisgesin.”

32. Hulle het aan hom die boodskap van יהוה verkondig en aan al die lede van sy huis.

33. Daardie tyd van die nag het hy hulle gevat en hulle wonde gewas en hy is dadelik gedoop, hy en al die lede van sy huis.

34. Toe bring hy hulle in sy huis en sit vir hulle kos voor en hy het gespring van vreugde, saam met sy hele huisgesin omdat hulle tot vertroue in God gekom het.

35. Toe dit dag word, stuur die regters die polisie en sê: “Laat daardie manne los.”

36. Die tronkbewaarder het die boodskap aan Sha’ul oorgedra: “Die regters het laat weet dat julle losgelaat moet word; gaan dan nou weg en reis in vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid!”

Lees volledige hoofstuk Handelinge 16