Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 10:23-43 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

23. Shim’on het hulle ingenooi en onthaal waar hy gebly het en die volgende dag het Kefa saam met hulle gegaan en sekere van die broers uit Yafo het saam met hom gegaan.

24. Die dag daarna het hulle in Kaisareia aangekom waar Kornelios hulle verwag het terwyl sy familie en goeie vriende by hom bymekaar was.

25. Toe Shim’on inkom, het Kornelios hom tegemoetgegaan en aan sy voete neergeval uit eerbetoning,

26. maar Shim’on het hom opgetel en gesê: “Staan op, ek is self ook net ’n mens.”

27. Terwyl hy met hom praat, gaan hy in en kry baie wat bymekaargekom het

28. en hy sê vir hulle: “Julle weet dat dit nie toegelaat word vir ’n Joodse man om met iemand van ’n ander volk te assosieer of om hom te besoek nie, maar God het my gewys dat ek geen mens vuil of onrein mag noem nie,

29. ek het daarom, toe ek geroep is, dadelik gekom. Ek vra dan om watter rede julle my laat roep het.”

30. Kornelios sê: “Vier dae gelede, omtrent hierdie uur, was ek besig om te vas en drie-uur die middag het ek in my huis gebid en skielik staan daar ’n man voor my in wit klere

31. en sê: ‘Kornelios, jou gebed is gehoor en jou dade van omgee is voor God in herinnering gebring.

32. Stuur dan na Yafo en laat Shim’on, wat ook Kefa genoem word, haal. Hy bly in die huis van Shim’on, ’n leerlooier, naby die see; as hy kom, sal hy met jou praat.’

33. Ek het onmiddellik na u gestuur en u het goed gedoen om te kom. Let op, ons is almal voor u om alles te hoor wat van die Teenwoordigheid van God aan u beveel is.”

34. Shim’on het sy mond oopgemaak en gesê: “In waarheid verstaan ek dat God geen aannemer van die persoon is nie,

35. maar dat in elke nasie dié een wat Hom vrees en onpartydig opreg is, aanvaarbaar is vir Hom.

36. Dít is die boodskap wat Hy gestuur het aan die kinders van Yisra’el toe Hy die goeie nuus van vrede, gesondheid, voorspoed, vergenoegdheid en rus verkondig het deur Yeshua, Die Gesalfde Een; Hy wat יהוה van almal is.

37. Julle ken die boodskap wat in die hele Y’hudah was, wat vanuit die Galil begin het, ná die doop wat Yoganan verkondig het,

38. aangaande Yeshua van Natzeret, wat God gesalf het met die Gees van Afsondering en met krag. Hy het rondgegaan en almal genees wat onderdruk was deur die Bose een omdat God in Hom was.Deut 21:23

39. Ons is getuies van alles wat Hy gedoen het in die gebied van Y’hudah en in Yerushalayim; hulle het Hom vermoor deur Hom aan ’n hout op te hang.

40. God het Hom op die derde dag laat opstaan en gegee dat Hy openlik verskyn,

41. nie aan al die mense nie, maar aan ons wat vooraf deur God as Sy getuies gekies is, aan ons wat saam met Hom geëet en gedrink het nadat Hy uit die dood uit opgestaan het.

42. Hy het ons beveel om aan die mense te verkondig en te getuig dat dit Hy is wat deur God aangestel is as Regter van wat lewe en wat dood is.

43. Van Hom getuig al die profete dat elkeen wat in Hom vertrou, vergifnis van sondes deur Sy Karakter en Outoriteit (Naam) sal ontvang.”

Lees volledige hoofstuk Handelinge 10