hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6

Ou Testament

Nuwe Testament

Galasiërs 2 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Na veertien jaar, het ek weer na Yerushalayim opgegaan saam met Bar-Nabba en ook vir Titos saamgevat,

2. maar ek het opgegaan op grond van ’n openbaring en aan hulle die goeie boodskap voorgelê wat ek onder die ander nasies verkondig; asook afsonderlik aan die wat in aansien was sodat ek nie miskien tevergeefs sou loop of geloop het nie.

3. Titos, wat by my was en ’n Arameër is, is nie gedwing om besny te word nie,

4. ten spyte van valse broers, wat ingesluip het om op ons vryheid te spioeneer wat ons in Die Gesalfde Een, Yeshua, het sodat hulle ons slawe kon maak;

5. teenoor wie ons egter nie ’n oomblik in ondergeskiktheid toegegee het nie sodat die waarheid van die goeie boodskap by julle kon voortgaan.

6. Die wat in aansien was, (wat hulle was, maak by my geen verskil nie, want God neem nie die uiterlike persoon van die mens aan nie), het niks vir my bygevoeg nie,

7. maar, inteendeel, hulle het gesien dat aan my die goeie boodskap vir die onbesnedenes toevertrou is, net soos aan Kefa dié vir die besnedenes toevertrou is,

8. want Hy wat Kefa bekragtig het as die afgevaardigde vir die besnedenes, het my ook bekragtig as afgevaardigde vir die ander nasies.

9. Toe hulle die onverdiende guns herken wat aan my gegee is, het Ya’akov, Kefa en Yoganan, wat as pilare beskou is, aan my en Bar-Nabba die regterhand van gemeenskap gegee sodat ons na die ander nasies, maar hulle na die besnedenes, kon gaan.

10. Hulle het ons slegs versoek om die armes te onthou, wat vir my ook belangrik was om te doen,

11. maar toe Kefa in Antiogeia gekom het, het ek hom in sy gesig teëgestaan omdat hy teregwysing verdien het,

12. want voordat sommige van Ya’akov af gekom het, het hy saam met die ander nasies geëet, maar ná hulle koms het hy hom onttrek en hom eenkant gehou omdat hy bang was vir die wat uit die besnydenis groep is

13. en saam met hom het ook ander van die Jode toegegee hieraan sodat selfs Bar-Nabba hom laat lei het deur hulle valse toneelspel.

14. Toe ek egter sien dat hulle nie opreg optree volgens die waarheid van die goeie boodskap nie, het ek vir Kefa ten aanskoue van almal gesê: “As jy wat ’n Jood is, soos ’n Arameër leef en nie soos ’n Jood nie, waarom dwing jy die ander nasies om soos Jode te lewe?

15. Ons wat van nature Jode en nie sondaars vanuit die ander nasies is nie,Ps 143:2

16. weet dat die mens nie onskuldig verklaar word vanuit die doen van die geskrewe wet nie, maar deur vertroue in Yeshua, Die Gesalfde Een. Ons het ook in Die Gesalfde Een, Yeshua, vertrou sodat ons onskuldig verklaar kon word vanuit vertroue in Die Gesalfde Een en nie vanuit die doen van die geskrewe wet nie omdat deur die doen van die geskrewe wet geen mens onskuldig verklaar sal word nie,”

17. maar as ons, wat begeer om in eenheid met Die Gesalfde Een onskuldig verklaar te word, self ook gevind word om sondaars te wees, is Die Gesalfde Een dan ’n bedienaar van die sonde? ’n Verwerplike gedagte!

18. Want as ek weer opbou wat ek afgebreek het, dan wys ek aan myself dat ek die opdragte oortree,

19. want ek is deur die geskrewe wet dood sodat ek vir God kan leef.Rom 6:1-8:13

20. Ek is saam met Die Gesalfde Een gekruisig en van toe af aan is dit nie meer ék wat self leef nie, maar Die Gesalfde Een leef in my. Die lewe wat ek nou in die menslike natuur leef, leef ek in die natuur van die Seun van God, wat my liefgehad het en Sy lewe vir my gegee het.

21. Ek verwerp nie die onverdiende guns van God nie, want as daar onpartydige opregtheid deur die geskrewe wet gekom het, dan het Die Gesalfde Een sonder rede gesterf.