Ou Testament

Nuwe Testament

Galasiërs 1:1-12 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Sha’ul, ’n afgevaardigde - nie vanaf mense of deur ’n mens aangestel nie, maar deur Yeshua, Die Gesalfde Een en deur God-die-Vader wat Hom uit die dood uit opgewek het

2. en al die broers wat by my is; aan die gemeente wat in Galatia is:

3. onverdiende guns vir julle en vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid van God-die-Vader en van ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een,

4. Hy wat Homself gegee het ter wille van ons sondes, om ons te bevry uit hierdie bose wêreld, volgens die wil van God, ons Vader,

5. aan Wie die eer, lof en aanbidding toekom vir ’n tydlose ewigheid! Dit is waar.

6. Ek is verstom dat julle so vinnig na ’n ander ‘goeie boodskap,’ wat nie bestaan nie, weggedraai word, weg van Die Gesalfde Een af, wat julle deur Sy onverdiende guns geroep het,

7. deur sommige mense, wat julle lastig val en die goeie boodskap van Die Gesalfde Een wil verdraai.

8. Selfs as ons, of ’n boodskapper uit die hemel, vir julle ’n goeie boodskap verkondig anders as die goeie boodskap wat ons aan julle verkondig het, sal hy vervloek wees!

9. Net soos wat ons dit van die begin af sê, sê ek nou ook weer: enige iemand wat aan julle ’n goeie boodskap verkondig anders as die wat julle ontvang het, sal vervloek wees!

10. Soek ek inderdaad nou die aanvaarding van mense, of van God? Probeer ek om mense tevrede te stel? As ek tot nou toe mense tevredegestel het, dan is ek nie ’n slaaf van Die Gesalfde Een nie,

11. maar ek verklaar teenoor julle, my broers, dat die goeie boodskap wat deur my verkondig is, nie vanaf die mens is nie

12. en ek het ook nie vanaf ’n mens lering gekry in die openbaring van Yeshua, Die Gesalfde Een, nie.

Lees volledige hoofstuk Galasiërs 1