Ou Testament

Nuwe Testament

Efesiërs 1:1-12 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Sha’ul, ’n afgevaardigde van Yeshua, Die Gesalfde Een, deur die wil van God, aan hulle wat in Efesos is; afgesonder en getrou in Yeshua, Die Gesalfde Een:

2. vrede, vergenoegdheid, gesondheid en voorspoed vir julle en onverdiende guns vanaf God, ons Vader en vanaf ons Meester Yeshua, Die Gesalfde Een!

3. Geseënd is God, die Vader van ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een, wat ons geseën het met al die seëninge van die Gees in die hemel, in eenheid met Die Gesalfde Een

4. net soos Hy ons vroeër, in eenheid met Hom, gekies het van voor die ontstaan van die wêreld af, om afgesonderd en sonder vlek in Sy Teenwoordigheid te wees en ons vroeër in liefde vir Homself aangestel

5. en ons as kinders gevestig het deur Yeshua, Die Gesalfde Een, want dit stel Sy wil tevrede

6. sodat die eer en lof van Sy onverdiende guns geprys kan word, wat oorvloei op ons deur die Een wat Hy liefhet,

7. want in Hom is daar vir ons vryspraak en deur Sy bloed die vergifnis van sondes volgens die rykdom van Sy onverdiende guns,

8. wat oorvloedig in ons is in alle wysheid en verstandelike insig.

9. Hy het ook aan ons die geheime van Sy wil geleer, dit wat Hy vroeër besluit het om in Homself te doen

10. vir die uitvoering van die einde van tye; alle dinge word in die hemel en op die aarde deur Die Gesalfde Een van voor af nuut gemaak.

11. In eenheid met Hom is ons gekies soos Hy ons vroeër aangestel het en het Hy gewil dat Hy alles sal doen volgens die doel van Sy wil

12. sodat ons, wat eerste ’n versekerde verwagting in Die Gesalfde Een gehad het, kan wees tot eer en lof van Sy Gemanifesteerde Teenwoordigheid

Lees volledige hoofstuk Efesiërs 1