Ou Testament

Nuwe Testament

2 Timotheos 1:1-11 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Sha’ul, ’n afgevaardigde van Yeshua, Die Gesalfde Een, deur die wil van God en deur die belofte van Lewe, wat in Yeshua, Die Gesalfde Een, is.

2. Aan Timotheos, my kind, vir wie ek lief is: onverdiende guns, liefde, vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid vanaf God-die-Vader en vanaf ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een!

3. Ek dank God, wat ek van my voorouers af in ’n skoon gewete aanbid. Nag en dag onthou ek jou, onophoudelik, in my gebede

4. en ek begeer om jou te sien as ek aan jou trane dink sodat ek vol blydskap kan wees.

5. Ek word herinner aan die opregte vertroue wat in jou is, wat eers in jou grootmoeder Loïs en in jou moeder Eunike was en wat ek oortuig is, ook in jou is.

6. Om hierdie rede herinner ek jou daaraan om die gawe van God op te wek wat, deur die oplegging van hande, in jou is,

7. want God het ons nie ’n Gees van vrees gegee nie, maar van krag, liefde en dissipline.

8. Skaam jou daarom nie oor die getuienis van ons Meester en ook nie oor my, sy gevangene nie, maar raak slaags met die bose, deur die krag van God;

9. Hy wat vir ons Lewe gegee het en ons geroep het met ’n afgesonderde roeping, nie volgens ons dade nie, maar volgens Sy wil en die onverdiende guns wat van voor die tyd van die wêreld af, in eenheid met Yeshua, Die Gesalfde Een, aan ons gegee is

10. en wat nou openbaar is deur die openbaring van ons Lewegewer, Yeshua, Die Gesalfde Een, wat die dood waardeloos gemaak het en die Lewe en die onvernietigbaarheid gewys het deur die goeie boodskap;

11. Hy deur Wie ek aangestel is as verkondiger, afgevaardigde en leermeester van die ander nasies.

Lees volledige hoofstuk 2 Timotheos 1