hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korinthiërs 9 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Aangaande die dienswerk teenoor die afgesonderdes is dit eintlik oorbodig vir my om aan julle te skryf,

2. want ek weet dat julle denke gereed is, waaroor ek oor julle by die mense van Makedonia roem en dat Agaia ’n jaar gelede gereed gemaak het en dat die ywer wat van julle uitgegaan het, baie ander opgewek het,

3. maar ek het die broers gestuur sodat ons roem oor julle in hierdie geval nie leeg mag wees nie sodat julle gereed sal wees, soos ek gesê het

4. sodat wanneer die manne van Makedonia saam met my kom en julle miskien nie voorbereid is nie, ons, om nie te sê julle, nie beskaam word in hierdie vertroue waarin ons roem nie.

5. As gevolg hiervan het ek dit dus nodig geag om die broers te vra om vooruit te gaan na julle toe en julle vroeër aangekondigde seëning vooraf reg te kry sodat dit gereed kan wees as ’n seëning en nie as iets wat afgepers is nie.

6. Meer nog, dit: wie spaarsamig saai, sal ook spaarsamig oes en wie volop saai, sal ook volop oes.Spr 22:8,9

7. Elkeen gee soos hy besluit het in sy verstand, wil en emosie, nie treurig of uit verpligting nie, want God het ’n vreugdevolle gewer lief.

8. God is in staat om alle onverdiende guns in julle te vermeerder sodat julle altyd in alles genoeg kan hê en julle oorvloedig kan wees in elke goeie werk.Ps 112:9

9. Soos geskrywe is: “Hy het uitgedeel en aan die armes gegee, Sy onpartydige opregtheid bly tot in ewigheid.”

10. Meer nog, Hy wat saad gee aan die saaier, gee brood om te eet en Hy sal vir julle saad gee en dit vermeerder en die vrug van julle onpartydige opregtheid vermeerder

11. sodat julle in alles verryk kan word met die volle regte van ’n erfgenaam, wat deur ons dankbaarheid tot God volmaak gemaak word

12. omdat die bediening van hierdie dienswerk nie alleen voorsien in die behoeftes van die afgesonderdes nie, maar ook oorvloei tot baie dankbaarheid tot God.

13. Deur die ervaring van hierdie diens eer, loof en aanbid hulle God dat julle jul onderwerp het aan die erkenning van die goeie boodskap van Die Gesalfde Een en dat julle deelgenote geword het in julle reg op volle erfgenaamskap met hulle en met almal

14. en hulle bring ’n gebed vir julle, met die liefde van baie vanweë die oorvloedige onverdiende guns van God wat op julle is,

15. maar dank God vir Sy onbeskryflike geskenk.