hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korinthiërs 8 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Ons maak aan julle bekend, broers, die onverdiende guns van God wat aan die gemeentes van Makedonia gegee is:

2. onder baie toetse van stryd was hulle oorvloedig in blydskap en die diepte van hulle armoede is oorvloedig gemaak in die rykdom van hulle vrygewigheid,

3. want hulle was na vermoë, ek getuig dit, bo vermoë, uit hulleself gewillig.

4. Hulle het ons met groot erns gesmeek dat ons hulle geskenk en hulle deel in die bediening aan die afgesonderdes, moet ontvang

5. en het nie slegs gedoen soos ons verwag het nie, maar het hulleself eers aan ons Meester geoffer en aan ons deur die wil van God,

6. waardeur ons Titos versoek het dat hy, net soos hy reeds begin het, net so ook by julle hierdie geskenk moet voltooi.

7. Soos julle egter in alles oorvloedig is: in vertroue, in die boodskap, in kennis, in alle erns en in julle liefde vir ons; laat julle ook in hierdie geskenk oorvloedig wees.

8. Ek sê dit nie as ’n bevel nie, maar om deur die erns van ander ook die egtheid van julle liefde te toets,

9. want julle ken die onverdiende guns van ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een, dat Hy, alhoewel Hy ryk was, ter wille van julle arm geword het sodat julle deur Sy armoede ryk kan word.

10. Hierin gee ek slegs my raad, want dit is beter vir julle omdat julle alreeds ’n jaar gelede begin het, nie alleen om te wil nie, maar ook om te doen.

11. Voltooi egter nou die daad sodat, net soos die bereidheid om te wil daar was, julle so ook deur die daad kan voltooi uit wat julle besit,

12. want as die gewilligheid daar is, is dit aanvaarbaar volgens wat iemand het, nie volgens wat hy nie het nie,

13. want ek bedoel nie dat daar vir ander verligting moet wees en vir julle stryd nie,

14. maar dat volgens gelykheid julle oorvloed hulle tekort kan aanvul in hierdie tyd sodat ook hulle oorvloed julle tekort kan aanvul en daar gelykheid is.Eks 16:18

15. Soos geskrywe is: “Hy wat oorvloed gehad het, het nie te veel gehad nie en hy wat min gehad het, het nie tekort gehad nie,”

16. maar dank aan God, wat dieselfde omgee vir julle in die gedagtes, wil en emosie van Titos gegee het,

17. want hy het ons versoek aanvaar en omdat hy baie ernstig was, het hy uit eie keuse na julle toe vertrek.

18. Ons het ook die broer saam met hom gestuur, wat deur al die gemeentes aangeprys word in die goeie boodskap.

19. Hy is ook so, deur die gemeentes, gekies om saam met ons te reis in hierdie onverdiende guns van dienswerk, wat deur ons gedoen word, tot die eer, lof en aanbidding van God en vir ons ondersteuning en versterking,

20. om te verhoed dat iemand ons sou beskuldig in verband met hierdie oorvloedigheid, wat deur ons bedien word,Spr 3:4

21. want ons neem in ag wat reg is, nie alleen in die Teenwoordigheid van God nie, maar ook voor die mense.

22. Ons het ook ons broer, wie se erns baie keer en in baie dinge getoets is, maar nou nog ernstiger is deur sy groot vertroue in julle, saam met hulle gestuur;

23. asook Titos, wat my deelgenoot en medewerker vir julle is; asook ons broers, hulle is afgevaardigdes van die gemeentes, tot eer, lof en grootheid van Die Gesalfde Een.

24. Bewys daarvolgens aan hulle julle liefde en dit waaroor ons roem oor julle, ook voor die gemeentes.