hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Yoganan 5 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Elkeen wat vertrou dat Yeshua Die Gesalfde Een is, is uit God gebore en elkeen wat die ouer liefhet, het ook dié een lief wat uit hom gebore is.

2. Hieraan weet ons dat ons die kinders van God liefhet: wanneer ons God liefhet en Sy opdragte uitvoer,Deut 30:11; Yog 14:15; Yog 15:14; Rom 8:7,8

3. want dít is die liefde vir God: dat ons Sy opdragte uitvoer en Sy opdragte is nie ’n las nie,

4. want elkeen wat uit God gebore is, oorwin vir homself die wêreld en dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin, naamlik ons vertroue.

5. Wie anders is dit wat oor die wêreld oorwin, as dit nie hy is wat vertrou dat Yeshua die Seun van God is nie?

6. Dit is Hy wat deur water en bloed gekom het, Yeshua Die Gesalfde Een; nie deur water alleen nie, maar deur water en bloed

7. en dit is die Gees wat getuig, want die Gees is die Waarheid.

8. Daar is drie wat getuig: die Gees, die water en die bloed en die drie is in eenheid.

9. As ons die getuienis van ’n mens aanvaar, hoeveel groter is die getuienis van God? Hierdie is die getuienis van God wat Hy aangaande Sy Seun getuig.

10. Elkeen wat aanhou vertrou in die Seun van God, het hierdie getuienis in homself. Elkeen wat God nie aanhou vertrou nie, maak Hom tot leuenaar omdat hy die getuienis nie vertrou wat God aangaande Sy Seun getuig nie.

11. Dit is die getuienis: dat God ons die ewige lewe gegee het en dié Lewe is in Sy Seun.

12. Hy wat vashou aan die Seun, hou vas aan die Lewe en elkeen wat nie die Seun van God vashou nie, het nie die Lewe nie.

13. Hierdie dinge het ek aan julle geskryf sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het; dié wat aanhou vertrou in die Outoriteit en Karakter (Naam) van die Seun van God.

14. Dit is ons versekering teenoor Hom: dat wat ons ook al, volgens Sy wil vra, Hy ons hoor

15. en as ons oortuig is dat Hy ons hoor aangaande alles wat ons van Hom vra, dan vertrou ons dat ons nou reeds die objek van ons begeertes ontvang wat ons van Hom gevra het.

16. As iemand sy broer ’n sonde sien doen wat nie ’n straf tot die dood toe het nie, moet hy vra en vir hom sal Lewe gegee word; vir hulle wat sondig wat nie tot die dood toe is nie. Daar is sonde wat tot die dood is; daarvoor sê ek nie dat hy moet bid nie.

17. Alle boosheid is sonde en daar is ’n sonde wat nie tot die dood is nie.

18. Ons weet dat elkeen wat vanuit God gebore is, nie sondig nie, want Hy wat vanuit God gebore is, beskerm sy lewe en die Bose een raak nie aan hom nie.

19. Ons weet dat ons vanuit God is en dat die hele wêreld in die Bose een lê.

20. Ons weet dat die Seun van God gekom het en aan ons begrip gegee het om te weet Wie die Waarheid is en ons is in die Waarheid, in Sy Seun, Yeshua, Die Gesalfde Een. Hy is die ware God en die Ewige Lewe.Eks 34:17; Lev 19:4; 1 Kor 10:7

21. My kinders, hou julleself weg van die aanbidding van afgode.