hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korinthiërs 7 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Na aanleiding van dit waaroor julle aan my geskryf het: dit is goed vir ’n man om nie by ’n vrou te kom nie,

2. maar as gevolg van die seksuele immoraliteit, laat ’n man ’n vrou vat en ’n vrou haar man vat.

3. Die man moet aan die vrou die liefde, wat verskuldig is, gee en net so ook die vrou aan haar man.

4. Die vrou het nie magtiging oor haar eie liggaam nie, maar die man en net so ook het die man nie magtiging oor sy eie liggaam nie, maar die vrou.

5. Onthóu julle nie van mekaar nie, behalwe as julle albei saamstem oor ’n bepaalde tyd met die doel om julle aan vas en gebed te kan wy en kom terug na plesier sodat die teëstander julle nie versoek deur die begeertes van julle liggame nie.

6. Dit sê ek egter aan die swakkeres, nie by wyse van opdrag nie,

7. want ek wens dat alle mense in reinheid soos ek was, maar elkeen het sy eie geestelike gawe van God, die een so, maar die ander weer anders.

8. Vir die ongetroudes en die weduwees sê ek, dit is voordelig as hulle bly soos ek,

9. maar as hulle nie kan volhard nie, moet hulle trou, want dit is beter om te trou as om van begeerte te brand.

10. Aan die getroudes beveel ek, nie ek nie, maar die Meester, dat die vrou nie van haar man mag weggaan nie

11. en as sy tog van hom af weggaan, moet sy ongetroud bly, of haar verhouding met haar man herstel en die man moet sy vrou nie in die steek laat nie.

12. Vir die ander sê ek, nie my Meester nie, as enige broer ’n ongelowige vrou het en sy dit goeddink om saam met hom te bly, moet hy haar nie verwerp nie

13. en as enige vrou ’n ongelowige man het en hy dit goeddink om saam met haar te bly, moet sy hom nie verwerp nie,

14. want die ongelowige man is afgesonder deur die vrou en die ongelowige vrou is afgesonder deur die man, want anders sou julle kinders ‘onrein’ wees, maar nou is hulle afgesonder.

15. As die ongelowige wil weggaan, laat hom weggaan. In sulke gevalle is die broer of suster nie as slaaf gebind nie, maar God het ons tot vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid geroep,

16. want hoe weet jy, vrou, of jy die man sal red; of hoe weet jy, man, of jy die vrou sal red?

17. Elkeen moet leef met dit wat יהוה hom gegee het, net soos elkeen was toe God hom geroep het en so beveel ek in al die gemeentes.

18. Was iemand besny toe hy geroep is, moet hy nie terugkeer na onbesnedenheid nie. Was iemand onbesny toe hy geroep is, moet hy hom nie laat besny nie.

19. Die besnydenis is niks en die onbesnedenheid is niks, maar die uitvoer van die opdragte van God, is wat tel.

20. Laat elkeen in dié roeping bly waarin hy geroep is.

21. Is jy as slaaf geroep, moenie dat dit jou pla nie, maar as jy vryheid kan verkry, kies self om te dien,

22. want die slaaf wat in ons Meester geroep is, is ’n vrygemaakte van God; net so is ook hy wat as vryman geroep is, ’n slaaf van Die Gesalfde Een.

23. Julle is met ’n prys gekoop; moenie slawe van mense wees nie.

24. Laat elkeen, broers, in dít waarin hy geroep is, bly voor God.

25. In verband met die maagde het ek geen outoriteit van die Meester nie, maar ek gee my advies as iemand wat deur die guns van ons Meester vertrouenswaardig is.

26. Ek dink, vanweë die onderdrukking wat op hande is, dat dit goed is vir ’n mens om so te bly.

27. Is jy aan ’n vrou verbonde, moenie soek om los te wees nie; is jy los van ’n vrou, moenie ’n vrou soek nie,

28. maar as jy ’n vrou vat, sondig jy nie en as ’n maagd trou, sondig sy nie, maar sulke mense sal probleme hê aan die vlees en ek wil julle dit spaar.

29. Dit sê ek, broers, die bepaalde tyd is kort; van nou af moet ook die wat vroue het, wees asof hulle nie het nie

30. en die wat huil, asof hulle nie huil nie en die wat bly is, asof hulle nie bly is nie en die wat koop, asof hulle dit nie kry nie

31. en die wat hierdie wêreld gebruik, asof hulle nie vasgevang is daarin nie, want die toestand van hierdie wêreld gaan verby.

32. As gevolg hiervan wil ek hê dat julle sonder sorg moet wees. Die ongetroude gee om vir die dinge van sy Meester, hoe hy sy Meester kan tevrede stel,

33. maar die getroude gee om vir die dinge van die wêreld, hoe hy die vrou sal tevrede stel.

34. Daar is ook verskil tussen ’n vrou en ’n maagd: die ongetroude gee om vir die dinge van haar Meester, om afgesonderd te wees na liggaam sowel as na gees, maar die getroude gee om vir die dinge van die wêreld, hoe sy haar man sal tevrede stel.

35. Ek sê hierdie dinge tot julle eie voordeel, nie om julle te beperk nie, maar dat julle getrou aan julle Meester sal wees op ’n mooi manier en nie aandag gee aan die wêreld nie.

36. As iemand meen dat hy tot skande gemaak word deur sy maagdelike dogter as sy oor die fleur van haar jeug is en hy haar nie vir ’n man gegee het nie en dit is gepas om haar te gee, sondig hy nie. Sy mag trou.

37. Hy wat waarlik vasstaan in sy gedagtes en nie onder dwang verkeer vir plesier nie, maar outoriteit het oor sy eie wil en dit in sy eie verstand, wil en emosie besluit het om sy dogter ’n maagd te hou, hy doen goed;

38. daarom, hy wat sy maagdelike dogter in die huwelik uitgee, doen goed, maar hy wat nie sy maagdelike dogter in die huwelik uitgee nie, doen beter.

39. ’n Vrou is deur die geskrewe wet gebind solank as wat haar man lewe, maar as die man dood is, is sy vry om te trou met wie sy wil, solank hy in ons Meester is.

40. Sy is egter gelukkiger as sy so bly, volgens my opinie en ek dink dat ek ook die Gees van God het.