Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korinthiërs 15:8-24 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

8. en laaste van almal, asof aan ’n verstote baba, het Hy ook aan my verskyn,

9. want ek is die geringste van die afgevaardigdes, wat nie werd is om ’n afgevaardigde genoem te word nie omdat ek die gemeente van God vervolg het.

10. Deur die onverdiende guns van God is ek egter wat ek is en Sy onverdiende guns aan my was nie tevergeefs nie, maar ek het meer gewerk as hulle almal; nogtans nie ek nie, maar die onverdiende guns van God wat by my is;

11. daarom, of dit nou ek is of hulle, so verkondig ons en so het julle vertrou.

12. As Die Gesalfde Een verkondig word, wat uit die dood uit opgestaan het, hoe sê sommige onder julle dat daar nie lewe is vir die dooies nie?

13. As daar geen lewe vir die dooies is nie, dan is Die Gesalfde Een ook nie opgewek nie

14. en as Die Gesalfde Een nie opgewek is nie, dan is ons verkondiging waardeloos en waardeloos ook julle vertroue.

15. Dan word ons as valse getuies van God bevind omdat ons van God getuig het dat Hy Die Gesalfde Een opgewek het terwyl Hy Hom nie opgewek het nie,

16. want as die wat dood is nie weer sal lewe nie, dan lewe selfs Die Gesalfde Een ook nie

17. en as Die Gesalfde Een nie lewend is nie, dan is julle vertroue leeg en is julle nog in julle sondes

18. en dan het ook dié wat in Die Gesalfde Een dood is, sonder twyfel vergaan.

19. As ons net in hierdie lewe op Die Gesalfde Een ’n versekerde verwagting het, dan is ons die bejammerenswaardigste van alle mense,

20. maar nou, Die Gesalfde Een ís opgewek uit die dood uit en Hy ís die eersteling vrug van dié wat dood is.

21. Net soos die dood deur ’n mens gekom het, net so het die lewe van hulle wat dood is, deur ’n Mens gekom,

22. want net soos alle mense deur Adam doodgaan, net so sal hulle ook almal in Die Gesalfde Een lewe.

23. Elke persoon in sy orde: die eersteling vrug is Die Gesalfde Een, daarna hulle wat aan Die Gesalfde Een behoort, wanneer Hy kom

24. en dan kom die einde, wanneer Hy die Koninkryk aan God die Vader oorgee, wanneer Hy elke heerser en elke outoriteit en alle kragte vernietig het,Ps 110:1 geplaas het.

Lees volledige hoofstuk 1 Korinthiërs 15