Ou Testament

Nuwe Testament

Spreuke 31:13-25 Die Boodskap (DB)

13. Sy verrig haar dagtaak met vreugde.

14. Sy sal selfs ook buite die huis gaan werk om nog beter vir haar gesin te sorg.

15. Vroegoggend staan sy op om haar gesin te versorg. Vir elkeen het sy ’n taak vir die dag.

16. Sy het ’n oog vir ’n winskopie, maar sy dink mooi voor sy koop. Die geld wat sy so spaar, belê sy versigtig.

17. Vir harde werk is sy nie bang nie! Wat sy aanpak, maak sy klaar.

18. Die kanse wat die lewe haar bied, gryp sy met albei hande. Sy sal tot laat in die nag werk om haar drome waar te maak.

19. Haar hande staan vir niks verkeerd nie. Sy doen wat sy moet doen.

20. Vir die armes gee sy kos en die behoeftiges help sy.

21. As die winter kom, voel sy gerus. Sy weet haar gesin het genoeg warm klere vir die koue.

22. Baie van die mooi goed in haar huis het sy self gemaak. Haar pragtige klere is ook handgemaak.

23. Omdat sy so bekwaam is, word haar man ook geëer. Almal ken hom. As hy by belangrike mense is, weet hulle wie hy is.

24. Met vaardigheid maak sy klere en verkoop dit. Mense koop graag haar handewerk.

25. Sy is geestelik sterk en tree altyd waardig op. Vir die toekoms is sy nie bang nie.

Lees volledige hoofstuk Spreuke 31