Ou Testament

Nuwe Testament

Spreuke 25:5-20 Die Boodskap (DB)

5. Voordat ’n gemeenskap werklik gelukkig kan wees, moet alle korrupsie en verkeerde praktyke eers met wortel en tak uitgeroei word.

6. Ken jou plek in die lewe. Moenie jou inwurm waar belangrike mense staan en gesels nie. Moenie sommer by hulle gaan sit nie.

7. Hulle sal jou wegjaag en jou plek vir iemand anders gee. Laat hulle jou liewer na die goeie plekke toe nooi.

8. Moenie alles wat ander doen, haastig loop en uitblaker nie. Onthou, jy het ook vuil wasgoed. Ander kan jou ook verneder.

9. As iets tussen jou en iemand anders skeefloop, gaan praat dit mooi uit. Moet nooit iemand se geheime in die openbaar uitlap nie.

10. Hy weet dalk ook iets van jou. En as hy daaroor praat, kan jy in ’n groot verleentheid beland.

11. Soos die allermooiste musiek, so is ’n woord wat op die regte tyd gesê word.

12. Twee dinge hoort bymekaar soos ’n pot en sy deksel: ’n wyse wat praat en iemand wat aandagtig luister.

13. Soos ’n beker koue water op ’n warm somersdag, so is die woorde van iemand wat jy werklik vertrou. Dit gee jou sommer nuwe moed vir die lewe.

14. Soos donderweer en sterk wind wat geen reën bring nie, so is ’n persoon wat baie beloof, maar niks waar maak nie.

15. Met geduld kan jy selfs die belangrikste mense van ’n saak oortuig. Met mooipraat kan jy baie teëstand afbreek.

16. Eet net genoeg. Soetgoed is lekker, maar jy moet weet wanneer om op te hou. As jy jou ooreet, voel jy gou-gou naar.

17. Moenie te veel by mense kuier nie. Hulle sal moeg word vir jou en later niks meer van jou hou nie.

18. Liegstories en skinderpraatjies is soos ’n hamer, ’n mes en ’n skerp pyl wat iemand se lewe verwoes.

19. Iemand wat onbetroubaar is, is soos ’n vrot tand en ’n seer voet. Wanneer jy hom die nodigste het, laat hy jou in die steek.

20. ’n Wyse het mensekennis. Hy sal nie vrolik wees by mense wat hartseer is nie. Dit pas tog nie. Dit is soos om jou warm klere op ’n bitter koue dag uit te trek, of soos om die verkeerde salf op ’n wond te smeer.

Lees volledige hoofstuk Spreuke 25