Ou Testament

Nuwe Testament

Spreuke 25:1-13 Die Boodskap (DB)

1. Hiskia, ’n koning van Juda, het ook die volgende spreuke bymekaargemaak. Hy het dit spesiaal vir ons laat neerskryf.

2. Die Here is baie groot. ’n Mens verstaan nie alles wat Hy doen nie. ’n Mens kan alles ondersoek en bestudeer. Baie dinge bly vir hom ’n geslote boek.

3. Net so min as wat ons weet wat hoog bo in die hemelruim gebeur of wat in die dieptes van die aarde aangaan, net so min kan ons die gedagtes van regeerders peil.

4. Voordat ’n ambagsman ’n mooi silwervoorwerp kan maak, moet alle onsuiwerheid eers weggebrand word.

5. Voordat ’n gemeenskap werklik gelukkig kan wees, moet alle korrupsie en verkeerde praktyke eers met wortel en tak uitgeroei word.

6. Ken jou plek in die lewe. Moenie jou inwurm waar belangrike mense staan en gesels nie. Moenie sommer by hulle gaan sit nie.

7. Hulle sal jou wegjaag en jou plek vir iemand anders gee. Laat hulle jou liewer na die goeie plekke toe nooi.

8. Moenie alles wat ander doen, haastig loop en uitblaker nie. Onthou, jy het ook vuil wasgoed. Ander kan jou ook verneder.

9. As iets tussen jou en iemand anders skeefloop, gaan praat dit mooi uit. Moet nooit iemand se geheime in die openbaar uitlap nie.

10. Hy weet dalk ook iets van jou. En as hy daaroor praat, kan jy in ’n groot verleentheid beland.

11. Soos die allermooiste musiek, so is ’n woord wat op die regte tyd gesê word.

12. Twee dinge hoort bymekaar soos ’n pot en sy deksel: ’n wyse wat praat en iemand wat aandagtig luister.

13. Soos ’n beker koue water op ’n warm somersdag, so is die woorde van iemand wat jy werklik vertrou. Dit gee jou sommer nuwe moed vir die lewe.

Lees volledige hoofstuk Spreuke 25