Ou Testament

Nuwe Testament

Spreuke 23:4-19 Die Boodskap (DB)

4. Moenie jou vir baie geld afsloof nie. Wees slim genoeg om te weet wanneer jy genoeg het.

5. Rykdom hou ook nie vir altyd nie. Dis soos ’n voël wat die een oomblik nog naby jou op ’n tak sit en dan skielik wegvlieg. So vinnig verdwyn geld.

6. Moenie jou met ’n baie suinige mens ophou nie. Vra hom niks nie. Hy sal jou uitnooi om by hom te kom eet.

7. Moet hom nie vertrou nie, want hy stel nie eintlik in jou belang nie. Sy gasvryheid is skyn.

8. Selfs sy kos is so sleg dat dit jou siek maak. Jou opbouende gesprekke beteken vir hom niks nie.

9. Moet tog nie ’n dom mens probeer oortuig nie. Jy mors net jou asem. Hy verstaan niks van jou wyse woorde nie.

10. Respekteer ander se eiendom. Moenie weerlose mense soos weeskinders uitbuit nie.

11. Die Here is hulle helper. Hy sal vir hulle sorg en jou straf.

12. Maak alles wat die spreuke jou leer jou eie. Spits jou ore om nog meer van die lewe te leer.

13. ’n Kind het dissipline nodig. ’n Pak slae op die regte tyd sal hom goed doen.

14. Wie dit nalaat, stuur sy kind die verderf in.

15. Jong vriend, hoor wat die wysheidsleraar vir jou sê: As jy die wysheid jou eie gemaak het, is ek baie bly.

16. As jy weet wat om op die regte oomblik te sê, loop ek oor van blydskap.

17. Moet niks wil hê van slegte mense nie. Dit kan jou net in die ellende dompel. Wees eerder elke dag baie lief vir die Here.

18. As jy dit doen, wag daar wonderlike dinge op jou. Goeie dinge sal met jou in die toekoms gebeur.

19. Luister goed na wyse raad. Tree reg op. Dink mooi hoe jy wil leef.

Lees volledige hoofstuk Spreuke 23