Ou Testament

Nuwe Testament

Spreuke 22:6-15 Die Boodskap (DB)

6. Leer ’n kind vroeg hoe om te leef en hy sal tot sy oudag toe reg leef.

7. ’n Ryke heers oor die armes wat hom geld vra. ’n Lener is die slaaf van die een by wie hy leen.

8. ’n Regeerder wat heeltyd verkeerde dinge doen, sal nog die aaklige gevolge daarvan dra. Sy regering sal nie lank hou nie.

9. Iemand wat mense se nood raaksien, ervaar blydskap. Hy wat vir armes gee, is ’n gelukkige mens.

10. As ’n rusiemaker weggaan, is alles sommer rustiger en kalmer. Onderlinge rusie en spanning sal dadelik ophou.

11. Die mens wat reg optree en reg praat, sal selfs die regeerder onder sy vriende tel.

12. Die Here sien alles wat ’n wyse en ’n domme sê en doen. Hy help ’n mens om reg te leef. Hy vernietig bose planne.

13. ’n Luiaard oordryf altyd alles. As hy nie lus is vir werk nie, sê hy sommer ’n kwaai leeu wag daar buite. As hy sou uitgaan, sal die leeu hom opvreet.

14. Pas op vir die praatjies van ’n los vrou. Dit is soos ’n put. Voordat jy jou kom kry, het jy daarin geval. So straf die Here ’n mens wat aan haar verleidings toegee.

15. Tug is nodig! As ’n kind toegelaat word om te doen net wat hy wil, loop dinge verkeerd. Dissipline verdryf stoutighede.

Lees volledige hoofstuk Spreuke 22