Ou Testament

Nuwe Testament

Spreuke 21:9-24 Die Boodskap (DB)

9. Dit is beter om in die buitekamer te bly as in die huis by iemand wat heeltyd stry.

10. ’n Slegte mens smag na alles wat verkeerd is. Hy gee niks vir ander mense om nie.

11. ’n Wyse kan nooit genoeg van die lewe leer nie. Wanneer ’n slegte mens vir sy dade gestraf word, moet ’n wyse ’n les daaruit leer. Wanneer ’n wyse kennis van die lewe opdoen, moet hy dit dadelik sy eie maak.

12. Die Here weet wat slegte mense doen. Hy kan hulle in ’n oogwink vernietig.

13. Wie ’n arme se noodkreet ignoreer, sal eendag self in die moeilikheid wees. Maar dan sal niemand help nie.

14. Soms help ’n geskenk om iemand se woede te laat bedaar. Geld wat ongemerk in ’n baadjiesak gesit word, help om ’n opvlieënde humeur te temper.

15. ’n Gelowige is bly as goeie dinge gebeur en reg geskied. Slegte mense se verkeerde dade lei tot ongeluk en hartseer.

16. Iemand wat nie reg wil leef nie het die lewe verloor. Stadig maar seker verloor hy al sy lewensvreugde. Uiteindelik gaan hy dood.

17. Wie niks doen nie en net partytjie hou, sal nooit geld hê nie. Wie net lekker wil eet en drink, verwaarloos sy werk. Hy sal nooit ryk wees nie.

18. Die Here straf slegte mense, maar help die gelowige. Hy vernietig die ongelowige, maar seën dié wat in Hom glo.

19. Dis beter om eenkant en alleen te bly as by mense wat graag stry en aanhou neul.

20. ’n Wyse mens het ’n fyn smaak. Hy ken die waarde van dinge en pas sy besittings mooi op. ’n Dom mens verwaarloos en vernietig alles.

21. Wie reg lewe en mense liefhet, het die lewe. Mense sal hom eer en respekteer.

22. ’n Wyse kyk deur mense se magspeletjies. Hulle groot planne en agteraf skemas vernietig hy.

23. Wie sy mond hou en sy tong beheer, bly uit die moeilikheid.

24. ’n Arrogante mens se naam stink. Iemand wat vermetel optree en niemand in ag neem nie word verwerp.

Lees volledige hoofstuk Spreuke 21