Ou Testament

Nuwe Testament

Spreuke 20:11-27 Die Boodskap (DB)

11. ’n Gelowige word aan sy vrugte geken. Dade spreek harder as woorde.

12. Om te kan hoor en sien is gawes van die Here.

13. Moenie lui wees nie. Moenie jou tyd met niksdoen verspil nie. Werk hard! Dan sal jy genoeg hê om van te leef.

14. ’n Koper sal altyd oor die prys kla. Later spog hy dat dit ’n winskoop was.

15. Kennis van die lewe is kosbaar. Geen geld kan dit koop nie. Wyse woorde is onbetaalbaar.

16. Pas op vir vinnige finansiële transaksies. Sorg dat jy nie aan die kortste ent trek nie. Sorg vir waarborge, veral as die ander party vrot van die skuld is.

17. Geld wat oneerlik verkry is, bring nie geluk nie. Dit is soos brood wat in jou mond grond word. Dit vernietig jou tande en veroorsaak pyn.

18. Goeie planne kan ook op vergaderings gemaak word. Voordat jy iets aanpak, vra eers raad. Beplan dan fyn.

19. Wie loop en skinder, lap ander se geheime uit. Vermy praatkouse en skinderpraatjies.

20. Wie sy pa en sy ma seermaak of vloek, kwyn weg. God verwerp hom.

21. Wie te vroeg op sy erfporsie aandring, het niks vir sy oudag nie.

22. Moenie jou wreek oor kwaad wat jou aangedoen is nie. Los dit liewer vir die Here. Hy sal jou help.

23. Die Here haat kullery, winkels wat swak produkte ten duurste verkoop, firmas wat mense uitbuit.

24. Niemand weet wat môre gaan gebeur nie. Wie egter naby die Here leef, sal weet wat om te doen.

25. Pas op wat jy vir die Here sê. Moenie in nood iets aan Hom beloof wat jy nie kan doen nie.

26. ’n Sterk leier vat bedrieërs vas. Hy stop wanpraktyke en straf korrupsie.

27. Denke is ’n gawe van die Here. Dit is soos ’n lig op ons pad. Dit help ons om onsself te verstaan. Dit help ons om die regte dinge te doen en te sê.

Lees volledige hoofstuk Spreuke 20