Ou Testament

Nuwe Testament

Spreuke 20:1-10 Die Boodskap (DB)

1. Te veel wyn laat jou onsin praat. Sterk drank maak jou rumoerig. Dit is slim van jou om nie dronk te word nie.

2. Die woedebuie van ’n regeerder is net so angswekkend soos ’n grommende leeu. Wie hom teëgaan, kan sy lewe verloor.

3. ’n Wyse mens bly weg van rusies en ’n gestry. Dit is net ’n dwaas wat sy neus oral insteek.

4. Lui mense gaan ook in die môre werk toe. Daar doen hulle net mooi niks, maar aan die einde van die maand wil hulle geld hê.

5. Wat mense dink, is ’n geslote boek. Niemand weet wat in hulle koppe aangaan nie. Net iemand met ’n fyn aanvoeling vir mense verstaan iets daarvan.

6. Egte vriendskap is skaars. Baie sê hulle is jou vriend, maar min sal jou deur dik en dun ondersteun.

7. ’n Gelowige is ’n mens op wie jy kan reken. Hy doen wat hy glo. Sy kinders kan bly wees hieroor, want hulle het ’n voorbeeld om na te volg.

8. ’n Leier met baie lewenswysheid sien verkeerde dinge maklik raak. Hy het die mag om verkeerde dinge te stop.

9. Wie is sonder sonde? Wie kan sê dat hy altyd net aan die goeie dink? Wie doen altyd die regte dinge op die regte tyd?

10. Die Here haat dubbele standaarde. Besighede wat mense kul of minderwaardige produkte verkoop, is vir die Here ’n gruwel.

Lees volledige hoofstuk Spreuke 20