Ou Testament

Nuwe Testament

Spreuke 18:9-23 Die Boodskap (DB)

9. Wie laat kom by die werk, vroeg loop, baie rondloop, lang teetye neem en afskeepwerk doen, bewerk sy eie ondergang. Hy kan sy werk verloor en sy familie kan ly.

10. Die Here is soos ’n sterk gebou. In swaar tye kan gelowiges by Hom gaan wegkruip. By Hom is hulle veilig.

11. Ryk mense dink dat geld alles is, dat dit hulle teen gevare sal beskerm. Wie so dink, leef in ’n gekkeparadys.

12. Hoogmoediges se grootpraatjies help hulle niks in ’n krisis nie. Nederiges wat op die Here vertrou, word in elke nood gehelp.

13. Iemand wat antwoord voordat hy luister, praat die grootste onsin. Niemand wil hom meer enige raad vra nie.

14. ’n Blymoedige mens kan die ernstigste siekte oorleef. Vir ’n geknakte gees is daar geen medisyne nie.

15. ’n Slim mens smag na wysheid. Hy luister graag na raad sodat hy reg kan leef.

16. ’n Geskenk bring ’n mens ver. Respek vir ander maak jou gewild.

17. In die hof klink die eerste getuie se verhaal altyd oortuigend. Onder kruisverhoor sing hy gou ’n ander deuntjie.

18. Partykeer moet ’n tussenganger ’n saak tussen mense besleg. As sy beslissing aanvaar word, kom daar vrede tussen die strydendes.

19. Iemand wat in ’n rusie seergekry het, onttrek hom aan ander. Tussen hom en hulle is daar ’n ysterhek.

20. Woorde moet tot dade lei. Baie praat sonder resultate is frustrerend.

21. Saampraat en saamdink het baie voordele.

22. Wie ’n geskikte lewensmaat vind, moet haar nie as vanselfsprekend aanvaar nie. Dit is ’n teken van die Here se liefde vir jou.

23. ’n Arme moet hom altyd verneder om iets te vra. Smekend moet hy sy saak stel. ’n Ryke het niks nodig nie. Hy jak die arme sommer maklik af.

Lees volledige hoofstuk Spreuke 18