Ou Testament

Nuwe Testament

Spreuke 16:10-24 Die Boodskap (DB)

10. Eerlike regters is vir die Here belangrik. Hulle moet regverdige beslissings lewer.

11. Winkeleienaars en kafeebase moenie mense uitbuit nie. Die Here haat ’n kullery.

12. Leiers moet korrupsie met wortel en tak uitroei. Goeie leiers is altyd eerlik.

13. ’n Leier moet die waarheid liefhê. Vir eerlike mense moet hy respek hê.

14. ’n Woedende baas kan jou groot ellende veroorsaak. Tree altyd kalm op. So sal jy ’n moeilike situasie goed kan hanteer.

15. Wie in die baas se goeie boekies is, kan goeie dinge verwag. Sy guns kan vir jou baie beteken.

16. Om reg te leef is baie meer werd as goud. Wie weet hoe om elke dag gelukkig te lewe is ryker as die rykste mense.

17. Wie die Here volg, bly uit die moeilikheid. Wie gelukkig wil wees, sal versigtig leef.

18. Wie dink hy is beter as ander, word verneder. Trots lei tot ondergang.

19. Dit is beter om niks van jouself te dink nie en saam met die eenvoudiges te leef, as om baie geld te hê en saam met hoogmoediges te bly.

20. Wie na die Woord luister, sal die goeie van die lewe ervaar. Wie op die Here vertrou, is lewenslank gelukkig.

21. Mense respekteer iemand wat wys leef. Iemand wat mooi praat, oortuig mense maklik.

22. Vir iemand wat weet hoe om reg te leef is wysheid ’n onuitputlike bron van kennis. ’n Domme sal nooit leer nie. Hy sal altyd die verkeerde dinge doen.

23. Soos ’n mens dink, praat hy ook. ’n Goeie spreker kan mense baie dinge leer.

24. Mooi woorde is soos iets lekkers. Aangenaam om te eet. Goed vir die liggaam.

Lees volledige hoofstuk Spreuke 16