Ou Testament

Nuwe Testament

Sagaria 14:7-14 Die Boodskap (DB)

7. Dit sal ’n snaakse dag wees, want die daglig sal nie ophou nie. Net die Here weet wanneer dit sal wees. Daar sal nie gewone dag of nag wees nie. Al word dit aand, sal dit nog steeds lig bly.

8. In dié tyd sal daar vars water uit Jerusalem vloei. Die een helfte van die water sal in die rigting van die Dooie See loop en die ander helfte na die Middellandse See toe. Die water sal dwarsdeur die winter en die somer aanhou loop.

9. Die Here sal koning wees oor die hele wêreld. Daardie dag sal almal weet dat Hy die enigste God is. Sy Naam sal die enigste Naam wees wat genoem word.

10. Die hele gebied rondom Jerusalem sal oop en uitgestrek lê. Na die noorde toe sal dit lê tot by Geba en na die suide tot so ver as Rimmon. In die middel van hierdie gebied sal Jerusalem hoog uitstaan soos vroeër. Die stad sal lê van die Benjaminingang af tot by die plek waar die ou hek was. Dan verder tot by die Hoekingang en van die Gananeltoring tot by die plek waar die koning se wyn gemaak word.

11. Die mense sal in Jerusalem kom bly en veilig voel, want die stad sal nie weer verwoes word nie.

12. Die Here sal ’n verskriklike siekte laat uitbreek onder al die nasies wat teen Jerusalem baklei het. Hulle liggame sal begin vrot terwyl hulle nog leef. Dieselfde sal gebeur met hulle oë en hulle tonge.

13. In dié tyd sal die Here ’n vreeslike angs die mense laat beetpak. In die deurmekaarspul sal hulle mekaar gryp en mekaar slaan.

14. Selfs die mense van Juda sal by Jerusalem teen die vyand baklei. Die rykdom van die volke in die omgewing sal afgevat word. Op dié manier sal groot hoeveelhede goud, silwer en klere bymekaargebring word.

Lees volledige hoofstuk Sagaria 14