Ou Testament

Nuwe Testament

Rut 2:1-15 Die Boodskap (DB)

1. In Betlehem was daar ’n bekende en invloedryke man met die naam Boas. Hy was familie van Naomi se man, Elimeleg.

2. Op ’n dag vra Rut vir Naomi: “Sal dit reg wees as ek na die lande toe gaan en van die koringare optel wat agterbly as hulle klaar geoes het, as hulle my sal toelaat?”“Natuurlik, gaan doen dit gerus,” was Naomi se antwoord.

3. Rut is toe uit na die lande toe waar sy are agter die werkers loop en optel het. Sy het toevallig op ’n stuk land beland wat aan Boas, die familielid van Elimeleg, behoort het.

4. Intussen het Boas ook uit Betlehem daar aangekom. Hy en sy werkers het mekaar vriendelik gegroet, soos dit die gebruik was.

5. Boas het vir Rut raakgesien en vir sy voorman gevra wie die vreemde vrou is wat op sy land are optel.

6. Hierop het die voorman geantwoord: “Dit is Naomi se skoondogter wat saam met haar uit Moab uit teruggekom het.

7. Sy het vanmôre al gevra of sy are agter die werkers mag optel. Van toe af werk sy nog aanmekaar. Sy rus nou vir die eerste keer ’n bietjie daar in die koelte.”

8. Boas stap toe na Rut toe en sê vir haar: “As ek jou raad kan gee, moenie op ’n ander land gaan are optel nie. Bly by die vroue wat hier op my land werk.

9. Kyk waar hulle are optel en volg hulle. Ek het ook die werkers gewaarsku om jou nie te pla nie. En as jy dors word, gaan drink gerus water daar by die kanne wat hulle vir hulleself volgemaak het.”

10. Rut het baie beleefd dankie gesê. “Maar,” vra sy toe vir hom, “hoekom is u bekommerd oor my? Ek is tog maar net ’n vreemdeling hier.”

11. Boas sê toe vir haar: “Ek het gehoor van alles wat jy vir jou skoonma gedoen het ná jou man se dood, dat jy bereid was om jou ouers en jou geboorteland prys te gee om hier saam met haar tussen ’n klomp vreemde mense te kom bly.

12. Mag die Here, die God van Israel, by wie jy hulp kom soek het, vir jou baie goed wees. Mag Hy jou goed versorg oor al die mooi dinge wat jy gedoen het.”

13. “U is baie vriendelik, Meneer,” sê sy toe vir hom. “Ek is bly dat u so ordentlik met my praat al is ek nie een van u werkers nie.”

14. Met etenstyd het Boas vir Rut geroep en gesê: “Kom eet saam met ons. Vat gerus ook van die brood en doop dit in die wynsous om jou dors weg te vat.”Sy het toe by die werkers gaan sit en Boas het vir haar gebraaide koring gegee. Toe sy klaar geëet het, was daar genoeg oor om saam te vat huis toe.

15. Toe Rut weg is om verder te gaan werk, het Boas vir sy werkers gesê: “Laat haar toe om ook tussen die gerwe koringare op te tel. Moenie haar keer om dit te doen nie.

Lees volledige hoofstuk Rut 2