hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21

Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 21 Die Boodskap (DB)

Vroue vir die stam van Benjamin

1. Toe die Israeliete by Mispa bymekaar was, het hulle ’n belofte voor die Here afgelê: “Nie een van ons sal ons dogters met ’n Benjaminiet laat trou nie.”

2. Hulle is toe na Bet-El toe. Daar het hulle tot in die aand in die teenwoordigheid van die Here gesit. Hulle het lank daar gesit en bitterlik gehuil en gesê:

3. “Here, God van Israel, waarom het dit in Israel gebeur? Een van die stamme van Israel is op die punt om te verdwyn!”

4. Vroeg die volgende oggend het die volk ’n altaar gebou waarop hulle brandoffers en vredesoffers geoffer het.

5. Toe vra hulle: “Was daar een van die stamme wat nie teenwoordig was toe ons by Mispa in die teenwoordigheid van die Here vergadering gehou het nie?” Hulle het vooraf ’n belofte afgelê dat enigeen wat geweier het om te kom, doodgemaak moes word.

6. Die Israeliete was baie jammer vir Benjamin. “Vandag het Israel een van sy stamme verloor,” het hulle gesê.

7. “Wat kan ons doen om vroue in die hande te kry vir die mans uit die stam van Benjamin wat oorgebly het? Ons het mos gesweer dat ons nie ons dogters met hulle sal laat trou nie.”

8. In antwoord op hulle vraag of daar iemand was wat nie na die vergadering in Mispa toe gekom het nie, het dit geblyk dat niemand uit Jabes in Gilead daar was nie.

9. Nadat hulle ’n lys opgestel het van almal wat daar was, het hulle gesien dat niemand uit Jabes teenwoordig was nie.

10. Die vergadering het toe 12 000 soldate na Jabes toe gestuur met die opdrag om almal, ook die vroue en kinders, dood te maak.

11. “Dit is wat julle moet doen,” was hulle opdrag. “Maak elke man en elke vrou wat nie meer ’n maagd is nie, dood.”

12. Hulle het 400 meisies in Jabes gekry wat nog maagde was. Hulle het hierdie meisies na die kamp by Silo in Kanaän gevat.

13. Die Israelitiese vergadering het toe ’n vredesafvaardiging na die oorblywende Benjaminiete gestuur wat by die rots by Rimmon gebly het.

14. Die Benjaminiete het teruggekom en die volk het vir hulle die meisies uit Jabes in Gilead as vroue gegee. Daar was egter nie genoeg meisies sodat elkeen ’n vrou kon kry nie.

15. Die volk het vir Benjamin jammer gekry, want die Here het die eenheid onder die stamme van Israel verbreek.

16. Toe vra die leiers van Israel: “Waar gaan ons nog vroue vir die mans van Benjamin kry? Hulle eie vroue is almal doodgemaak.

17. Israel mag nie een van sy stamme verloor nie. Ons moet ’n manier kry om die stam van Benjamin te laat voortbestaan.

18. Ons kan hulle nie toelaat om met ons dogters te trou nie, aangesien ons ’n eed afgelê het wat sê dat enigeen wat sy dogter met ’n Benjaminiet laat trou, vervloek is.”

19. Toe sê hulle: “Daar is mos jaarliks ’n fees in Silo tot eer van die Here.” Silo is noord van Bet-El af na Sigem se kant toe en suid van Lebona.

20. Die leiers sê toe vir die Benjaminiete: “Gaan kruip in die wingerde weg

21. en wag. As julle die meisies van Silo sien uitkom om te dans, moet julle uit die wingerde opspring en elkeen vir julle ’n vrou gryp. Vat hulle dan saam met julle terug na die gebied van Benjamin toe.

22. As die pa’s en broers by ons kom kla, sal ons vir hulle sê: ‘Probeer tog verstaan, ons kon nie genoeg vroue vir hulle kry toe ons Jabes verwoes het nie. Julle is nie skuldig daaraan dat julle die belofte aan God verbreek het nie, want julle het nie julle dogters vrywillig vir hulle gegee om mee te trou nie.’”

23. Die Benjaminiete het dit toe gedoen. Hulle het die vroue wat aan die feesvierings deelgeneem het, ontvoer en saam met hulle teruggevat na hulle eie grondgebied toe. Hulle het hulle stede herbou en daarin gaan bly.

24. Terselfdertyd is die res van die stamme van Israel ook daar weg, elkeen na hulle eie stam, familie en grondgebied toe.

25. In daardie tyd was daar nog nie ’n koning in Israel nie en almal het gedoen net wat hulle wou.