Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 18:12-23 Die Boodskap (DB)

12. Hulle het kamp opgeslaan by Kirjat-Jearim in Juda. Daarom staan die plek net oos van Kirjat-Jearim bekend as die kamp van Dan.

13. Van daar af het hulle verder getrek tot by Miga se huis in die berge van Efraim.

14. Die vyf mans wat vroeër die gebied van Lajis verken het, het vir die ander gesê: “Weet julle dat daar ’n afgodsbeeld en huisgode en nog ’n paar ander beeldjies in hierdie huis is? Ons dink dit is glashelder wat ons behoort te doen.”

15. Hulle het toe afgedraai na Miga se huis toe waar die jong Leviet gebly het en vir hom gevra hoe dit met hom gaan.

16. Die 600 gewapende soldate het by die hek bly staan,

17. terwyl die vyf wat die land verken het, in die huis ingegaan en die afgodsbeeld, die huisgode en die ander beeldjies gevat het.

18. Toe die priester, wat by die deur gestaan het, sien dat hulle die afgodsbeelde wegdra, het hy gevra: “Wat dink julle doen julle?”

19. Hulle sê toe vir hom: “Bly liewer stil en kom saam met ons. Jy kan ons leermeester en priester wees. Dit is tog beter om die priester van ’n hele stam van Israel te wees as net vir een man.”

20. Die idee het die jong priester aangestaan en hy het die afgodsbeeld, die huisgode en die ander beeldjies gevat en saam met die mense gegaan.

21. Die klomp is toe daar weg met hulle kinders en vee en besittings aan die voorpunt.

22. Toe hulle al ’n hele ent weg was, het Miga sy bure geroep en hulle het die mense van Dan agternagesit.

23. Toe hulle hulle inhaal, het hulle op die mense van Dan begin skree. Dié het omgedraai en vir Miga gevra: “Vir wat gaan jy so te kere?”

Lees volledige hoofstuk Rigters 18