hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21

Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 15 Die Boodskap (DB)

Simson neem wraak

1. ’n Ruk later, tydens die oestyd, het Simson weer vir sy vrou gaan kuier. Hy het ’n bokkie as geskenk vir haar saamgevat. Hy was van plan om by haar te gaan slaap. Haar pa wou hom egter nie toelaat nie.

2. “Ek het gedink jy haat haar na wat gebeur het,” het hy gesê, “daarom het ek haar met jou strooijonker laat trou. Maar kyk, haar jonger suster is in elk geval baie mooier as sy. Jy kan met haar trou.”

3. Toe sê Simson: “Hierdie keer kan ek regtig nie verantwoordelik gehou word vir wat ek aan die Filistyne gaan doen nie.”

4. Hy is toe daar weg. Hy het 300 jakkalse gaan vang en hulle sterte twee-twee aan mekaar vasgemaak. Toe het hy fakkels gevat en tussen elke paar sterte ’n fakkel vasgemaak.

5. Hy het die fakkels aan die brand gesteek en die jakkalse tussen die Filistyne se oeste ingejaag. Hy het al hulle koring afgebrand, dié wat nog in miede gelê het, sowel as dié wat nog op die lande was. Hy het ook hulle wingerde en hulle olyfbome aan die brand gesteek.

6. Toe die Filistyne vra: “Wie het dit gedoen?” was die antwoord: “Simson, want sy skoonpa uit Timna het sy vrou vir sy strooijonker gegee.” Die Filistyne het toe gegaan en die vrou en haar pa gevat en hulle met hulle huis en al verbrand.

7. Simson het toe vir hulle gesê: “Is dit hoe julle optree? Nou belowe ek julle ek sal nie ophou voordat ek julle almal terugbetaal het nie!”

8. Hy het verwoed onder hulle ingeklim en baie van hulle doodgemaak. Daarna het hy in ’n grot by die rots van Etam gaan bly.

Simson verslaan die Filistyne

9. Die Filistyne het toe kamp gaan opslaan in Juda en strooptogte teen die dorp met die naam Legi uitgevoer.

10. Toe vra die mense van Juda vir die Filistyne: “Waarom val julle ons aan?”Hulle antwoord was: “Om vir Simson vas te trek en hom terug te betaal vir wat hy aan ons gedoen het.”

11. Toe gaan 3 000 mense van Juda na die grot toe by Etam en hulle vra vir Simson: “Besef jy nie dat die Filistyne oor ons heers nie? Wat doen jy aan ons?”Hy het hulle geantwoord: “Ek het hulle net terugbetaal vir wat hulle aan my gedoen het.”

12. Hulle sê toe vir hom: “Wel, ons het jou kom haal om jou aan die Filistyne uit te lewer.” Toe sê Simson vir hulle: “Belowe my eers julle sal my nie doodmaak nie.”

13. “Goed,” het hulle gesê, “ons belowe ons sal jou net boei en aan die Filistyne uitlewer. Ons wil jou nie doodmaak nie.” Hulle het hom toe met twee nuwe toue vasgebind en van die grot by die rots van Etam af weggevat.

14. Toe hy in Legi aankom, het die Filistyne van blydskap gejuig en op hom afgestorm. Maar die Gees van die Here het vir Simson sterk gemaak en hy het die toue om sy arms gebreek asof hulle garingdraadjies was. Dit het gelyk of die boeie sommer van sy hande afval.

15. Simson het die kakebeen van ’n donkie wat daar gelê het, opgetel en 1 000 Filistyne daarmee doodgeslaan.

16. Simson het toe spottend gesê: “Met ’n donkie se kakebeen het ek ’n hopie niks van hulle gemaak. Met ’n donkie se kakebeen het ek 1 000 mense doodgemaak.”

17. Nadat hy dit gesê het, het hy die kakebeen weggegooi en die plek Kakebeenshoogte genoem.

18. Hierna was Simson baie dors en het hy vir die Here gesê: “U het nou hierdie groot oorwinning van my oor die Filistyne moontlik gemaak. Moet ek nou van die dors doodgaan en in die hande van dié klomp heidene val?”

19. Toe het God water uit ’n fontein daar in Legi laat uitborrel en Simson kon sy dors les en so sy krag herwin. Daarom word die fontein Roepersfontein genoem. Dit is vandag nog in Legi.

20. Simson was in die regeringstyd van die Filistyne twintig jaar lank die leier van Israel.