Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 13:9-18 Die Boodskap (DB)

9. Die Here het Manoag se gebed verhoor, en die Engel van God het weer na die vrou toe gekom waar sy alleen in die veld gesit het. Manoag was nie by haar nie.

10. Daarom het sy vinnig na hom toe gehardloop en vir hom gesê: “Die man wat nou die dag met my gepraat het, is weer hier!”

11. Manoag is toe dadelik saam met sy vrou daar weg. By die man aangekom, vra hy vir hom: “Is jy die man wat nou die dag met my vrou gepraat het?”“Ja, dit is ek,” het hy geantwoord.

12. Manoag vra toe vir hom: “As jou belofte waar word, hoe moet die kind optree?”

13. Die Boodskapper van die Here het vir Manoag geantwoord: “Jou vrou moet seker maak dat sy alles doen wat Ek vir haar gesê het om te doen.

14. Sy mag nie druiwe eet of wyn en sterk drank drink nie. Sy mag ook nie enige verbode kos eet nie. Sy moet net doen wat Ek vir haar gesê het.”

15. Manoag sê toe vir die Boodskapper van die Here: “Bly nog so ’n rukkie hier, dan maak ons vir jou ’n bokkie gaar.”

16. Die Boodskapper van die Here sê toe vir Manoag: “Al bly ek nog ’n ruk hier, sal ek in elk geval nie jou kos eet nie. Gebruik eerder die bokkie as ’n brandoffer vir die Here om vir Hom dankie te sê.”Manoag het nie besef dat dit die Here se Boodskapper is nie,

17. en hy vra toe vir hom: “Wat is jou naam? Ek vra dit sodat ons aan jou eer kan bewys wanneer jou woorde waar word.”

18. “Hoekom vra jy my Naam?” het die Boodskapper van die Here gevra. “In elk geval, al sê ek dit ook vir jou, sal jy dit nie verstaan nie.”

Lees volledige hoofstuk Rigters 13