Ou Testament

Nuwe Testament

Psalms 51:6-19 Die Boodskap (DB)

6. Ek was baie ongehoorsaam aan U, en dit teenoor U alleen.Maar U sal reg optree as U oor my lewe moet besluit.U sal nie die verkeerde ding doen nie.

7. Vandat ’n mens die dag gebore word, ja, vandat jou ma begin verwag, is verkeerde dinge deel van jou lewe.Ek sien dit in my eie lewe.Vandat my ma my in die wêreld gebring het, dryf iets my om ongehoorsaam aan die Here te wees.

8. U wil hê ’n mens moet altyd eerlik en opreg wees, Here.Ek wil bitter graag weet wat U van my verwag. Hoe wil U hê moet ek lewe?

9. Vat asseblief al die verkeerde dinge wat ek gedoen het ver van my af weg, Here.Kyk op ’n splinternuwe manier na my.Sien my weer as iemand wat niks verkeerds gedoen het nie.My lewe moet so skoon wees soos die witste wol.

10. Help my om weer opgewonde en bly te wees.Help my om te jubel van vreugde, al het U my swaar gestraf.

11. Moet nooit weer dink aan die verkeerde dinge wat ek gedoen het nie. Vat alles weg uit my lewe wat nie reg is in u oë nie.

12. Maak my opreg, God!Maak my van kop tot tone nuut sodat ek kan vasstaan. Moet my nie van U af wegstoot nie.

13. Jaag my nooit voor U weg nie. Laat u Goddelike krag ook nie van my af weggaan nie.U krag sorg dat ek doen wat U vra.

14. Laat ek weer bly wees. U alleen kan die lewe weer vir my nuut maak.Help my om U te dien met alles wat in my is.

15. Ek wil baie graag mense help wat nie doen wat U sê nie.Ek wil vir hulle sê om hulle sondes te laat staan en na U toe terug te kom.

16. God, help my om nie ander mense se lewe te vernietig nie!U is die God wat my lewe heelmaak.Help my om vol blydskap vir ander te vertel van die goeie dinge wat U doen.

17. Here, sit al die regte woorde waarmee ek U kan prys in my mond.

18. Here, U wil nie hê dat ons U moet probeer vergoed vir alles wat U vir ons doen nie. Anders sou ek dit doen. U vra nie offers van ons nie.

19. Al wat U wil hê, is dat iemand laag voor U buig en kom sê hy is jammer oor sy verkeerde dade.God, U sal nooit iemand wat sleg voel oor sy sonde van U af wegstoot nie.

Lees volledige hoofstuk Psalms 51