Ou Testament

Nuwe Testament

Psalms 31:11-25 Die Boodskap (DB)

11. Ja, ek word al hoe maerder omdat ek my lê en bekommer.Al die swaarkry maak my oud voor my tyd.My moeilikheid laat my kragte afneem sodat ek so maer word.

12. Daar is mense wat my tot ’n val wil bring.Hulle sorg dat almal my uitlag. Mense met wie ek bevriend was, wil niks met my te doen hê nie.Elkeen wat naby my kom, spot met my. Hulle vlug weg sodat hulle my nie hoef te sien nie.

13. Mense maak of ek nie meer bestaan nie. Ek is soos ’n dooie wat besig is om te verrot.

14. Ja, ek het gehoor hoe mense stories oor my loop en vertel.Agteraf maak hulle planne om my dood te maak.Hulle span saam teen my.Hulle wil my doodmaak.

15. Maar ek vertrou op U, Here.Ek sê vir U dat U my God is.

16. U beheer my lewe van begin tot end.Red my van hulle wat niks vir my omgee nie.

17. Help my, Here. Kyk na my kant toe. Wys vir my hoe groot u liefde vir my is.

18. Moet my nie in die steek laat nie, Here, want ek bid dag en nag tot U.Laat hulle wat weier om U te dien, sleg daarvan afkom.Mag hulle van die aarde af verdwyn. Dan sal hulle stem stil word.

19. Gee dat hulle wat loop en skinder, nooit weer praat nie.Hulle sien neer op elkeen wat vir U lief is.Hulle dink niks van u kinders nie.Hulle is so vol van hulleself.

20. Here, U is baie goed vir elkeen wat U dien.U maak u hart oop vir mense wat vir U eerbied het.U gee vir hulle meer as genoeg om van te leef.Almal sien dit raak.

21. U beskerm hulle teen almal wat slegte planne teen hulle uitdink.U pas hulle op. Geen skinderstorie kan hulle seermaak nie.

22. Julle moet die Here saam met my kom prys, want Hy het my met sy groot liefde toegevou. Hy beskerm my. Op ’n wonderlike manier het Hy my opgepas toe ek in die moeilikheid was.

23. Terwyl ek baie bang was, het ek gedink: U sien my nie meer raak nie. Ek gly uit u arms. Maar U het my gehelp toe ek U gevra het om my nie alleen te los nie.

24. Julle almal wat die Here se lieflingskinders is, wees elke dag lief vir Hom!Die Here beskerm elkeen wat aan Hom getrou bly.Maar Hy straf almal wat teen Hom in opstand kom.

25. Hou moed! Wees sterk! Julle wat op die Here vertrou, moet nooit moedeloos word nie.

Lees volledige hoofstuk Psalms 31