Ou Testament

Nuwe Testament

Psalms 22:13-22 Die Boodskap (DB)

13. Die mense wat my dood wil hê, is so gevaarlik soos wilde diere.Van alle kante af sak hulle op my toe. Hulle is soos ’n trop beeste wat op my afstorm.

14. Jy sien net oop monde en skerp tande wat op jou afkom.Daardie mense is soos leeus wat bloed geruik het. Hulle wil my uitmekaarskeur.Ek het geen krag meer oor nie.

15. Ek voel soos water wat iemand op die grond uitgooi. Dit verdwyn in die sand.Ek het soos ’n riet gebewe. Alles in my val uitmekaar.Ek is swak en moedeloos. Daarom beteken ek minder as niks.

16. Ja, ek is so min werd soos ’n leë blik op ’n ashoop. My tong is so dik dat ek nie kan praat nie. En dan los U my ook nog alleen asof ek klaar dood is.

17. Soos ’n klomp wildehonde wat op kos toesak, het slegte mense my toegepak.Van alle kante het hulle gekom om op my te trap.Ek kon net mooi niks teen hulle doen nie.Hulle het my hande en voete stukkend gesteek.

18. Ek is net vel en been, so maer soos ’n kraai.As my vyande dit sien, voel hulle baie tevrede.

19. Hulle het gemaak asof ek klaar dood is deur my laaste paar besittings te vat en onder mekaar uit te deel.

20. U moet my tog nie alleen los nie, Here!U alleen gee my krag.Kom help my baie gou!

21. Keer asseblief sodat ek nie doodgaan nie.Ek het net een lewe.Moenie dat daardie wrede klomp honde dit van my af wegvat nie.

22. Red my uit die kloue van daardie leeus wat my wil opeet.Hulle is so gevaarlik soos ’n gewonde buffel.

Lees volledige hoofstuk Psalms 22