Ou Testament

Nuwe Testament

Psalms 22:12-31 Die Boodskap (DB)

12. Moet my ook nou nie alleen los nie, Here, want probleme oorstroom my hele lewe.U voel so ver van my af terwyl ek hier in die nood sit.Daar is niemand om my te help nie.

13. Die mense wat my dood wil hê, is so gevaarlik soos wilde diere.Van alle kante af sak hulle op my toe. Hulle is soos ’n trop beeste wat op my afstorm.

14. Jy sien net oop monde en skerp tande wat op jou afkom.Daardie mense is soos leeus wat bloed geruik het. Hulle wil my uitmekaarskeur.Ek het geen krag meer oor nie.

15. Ek voel soos water wat iemand op die grond uitgooi. Dit verdwyn in die sand.Ek het soos ’n riet gebewe. Alles in my val uitmekaar.Ek is swak en moedeloos. Daarom beteken ek minder as niks.

16. Ja, ek is so min werd soos ’n leë blik op ’n ashoop. My tong is so dik dat ek nie kan praat nie. En dan los U my ook nog alleen asof ek klaar dood is.

17. Soos ’n klomp wildehonde wat op kos toesak, het slegte mense my toegepak.Van alle kante het hulle gekom om op my te trap.Ek kon net mooi niks teen hulle doen nie.Hulle het my hande en voete stukkend gesteek.

18. Ek is net vel en been, so maer soos ’n kraai.As my vyande dit sien, voel hulle baie tevrede.

19. Hulle het gemaak asof ek klaar dood is deur my laaste paar besittings te vat en onder mekaar uit te deel.

20. U moet my tog nie alleen los nie, Here!U alleen gee my krag.Kom help my baie gou!

21. Keer asseblief sodat ek nie doodgaan nie.Ek het net een lewe.Moenie dat daardie wrede klomp honde dit van my af wegvat nie.

22. Red my uit die kloue van daardie leeus wat my wil opeet.Hulle is so gevaarlik soos ’n gewonde buffel.

23. U het my uit my nood gered!In die kerk sal ek tussen u kinders daaroor praat. Voor die gemeente sal ek U loof en prys. Ek sal U voor almal prys.

24. Julle wat aan Hom behoort, kom bring eer aan Hom! Kinders van die Here, kom wys dat julle vir Hom respek het!

25. Kom prys Hom, want Hy draai nie sy rug vir hulle wat sy hulp nodig het nie.Hy help hulle as hulle smeek dat Hy iets aan hulle nood moet doen. Hy luister as hulle na Hom roep.

26. Daar waar baie mense bymekaarkom, sal ek ’n loflied oor die Here sing.Almal moet dit hoor.Wat ek aan Hom belowe het, sal ek nakom.Ek sal dit doen voor almal wat Hom dien.

27. Vir mense wat die Here dien, sal Hy baie goed wees.Hulle sal al die goeie dinge geniet wat Hy vir hulle gee.Mense wat sy hulp vra, sal Hom kom prys.Ek wens dat julle lewe van blydskap sal oorloop.Dan sal julle voluit leef en elke dag geniet, en lank lewe.

28. Tot op die verste plek op aarde sal mense sien hoe goed die Here is.Hulle sal hulle lewe vir Hom gee.Mense wat Hom nie geken het nie, sal Hom dien.Oud en jonk sal na Hom toe kom. Hulle sal voor Hom buig.

29. Die Here is die sterkste van almal. Hy heers oor al die volke hier op aarde.

30. Selfs ryk mense wat dink dat hulle Hom nie nodig het nie, sal kom en die goeie dinge geniet wat Hy gee.Hulle sal kom om Hom te dien en te eer.Alle mense sal voor Hom kniel.

31. Mense sal vir hulle kinders van die Here vertel.So sal die nageslagte van Hom weet.Hulle sal opgewonde wees om in Hom te glo.

Lees volledige hoofstuk Psalms 22