Ou Testament

Nuwe Testament

Prediker 8:1-12 Die Boodskap (DB)

1. Wie is regtig slim? En wie het die antwoord op al die vrae? Die mens wat baie weet, se gesig straal van vriendelikheid.

2. Doen wat die regeerder sê. Moenie haastige beloftes aan God maak nie.

3. Omdat ’n regeerder kan doen wat hy wil, moet jy nie te lank by hom bly of ’n slegte saak ondersteun nie.

4. Die regeerder se woord is wet. Wie kan hom aanspreek oor wat hy doen?

5. Solank jy maar doen wat die regeerder sê, is jy veilig. Die wyse weet wat om op die regte tyd te sê en te doen.

6. Vir alles is daar ’n tyd en ’n uur, maar die mens ken dit nie.

7. Niemand weet wat gaan gebeur nie en niemand kan jou ook vertel wat voorlê nie.

8. ’n Mens is magteloos. Hy kan nie die wind keer nie, hy kan nie sy sterfdag uitstel nie, hy kan nie militêre diens vermy nie en hy kan nie alles met sy rykdom regkry nie.

9. Toe ek oor alles in die lewe nagedink het, het ek besef sommige het baie mag en sommige nie. Dié wat nie mag het nie, moet altyd ly onder dié wat mag het.

10. Ek het gesien hoe slegte mense begrawe word en hoe mense hulle prys, terwyl goeie mense uit hulle stad moet vlug en vergeet word. Dit wys net hoe sinloos en deurmekaar die lewe is.

11. Mense doen maklik verkeerde dinge omdat dit lank vat voordat die skuldiges gestraf word.

12. ’n Slegte mens kan selfs 100 misdade pleeg en nog steeds lank leef. Die mense sê mos altyd: “As jy vir God bang is, sal dit met jou goed gaan.

Lees volledige hoofstuk Prediker 8