Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 27:13-23 Die Boodskap (DB)

13. As jy die land gesien het, sal jy ook doodgaan net soos jou broer, Aäron,

14. want julle twee het mos nie na My geluister daar by Meriba in die Sinwoestyn nie. Dit was mos daar naby Kades dat die volk met julle baklei het, en julle julle teen My verset het.”

15. Toe sê Moses vir die Here:

16-17. “Here, U is die God van almal wat lewe. Ek pleit by U, stel tog net ’n leier aan oor dié klomp mense om hulle in die nuwe land in te lei en hulle te help as hulle moet veg. Anders sal hulle soos ’n trop skape sonder ’n herder wees.”

18. Toe sê die Here vir Moses: “Laat Josua die seun van Nun na jou toe kom, want Ek het hom toegerus om hierdie werk te kan doen. Sit jou hande op sy kop

19. en laat Eleasar en die hele volk hiernatoe kom sodat hulle dit kan sien. Sê dan daar voor hulle almal vir hom wat sy taak gaan wees, en stel hom as jou opvolger en as die volk se nuwe leier aan.

20. Dra ’n deel van die gesag wat Ek aan jou gegee het aan hom oor sodat die volk sal besef hulle moet na Josua luister.

21. Wanneer hy my raad en hulp nodig het, moet hy na die priester Eleasar toe gaan en hy sal my raadpleeg met die urim, ’n hulpmiddel wat Ek vir die priester gegee het om vir die volk te sê wat Ek wil hê. As Ek so met Eleasar gepraat het, moet Josua en die volk na hom luister.”

22. Moses het gedoen wat die Here gesê het. Hy het Josua voor die priester Eleasar en die hele volk laat staan,

23. sy hande op sy kop gesit en hom as sy opvolger aangestel, presies soos die Here gesê het.

Lees volledige hoofstuk Numeri 27