Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 24:10-25 Die Boodskap (DB)

10. Teen dié tyd was Balak al woedend vir Bileam. Hy het sy vuiste in die lug voor hom geswaai en gesê: “Wat dink jy doen jy? Ek het jou laat kom om my vyande te vervloek, maar jy het hulle nou al drie keer na mekaar geseën!

11. Maak dat jy hier wegkom! Gaan terug na jou huis toe. Ek was van plan om jou goed te betaal, maar die Here het gesorg dat jy niks kry nie!”

12. Toe sê Bileam vir Balak: “Onthou jy nie wat ek vir jou laat weet het nie? Ek het gesê:

13. Selfs al sou Balak vir my sy paleis vol silwer en goud gee, kan ek nog steeds net doen wat die Here my God my toelaat. Niks anders as dit nie.

14. Ek gaan nou terug na my eie mense toe. Maar net voordat ek gaan, laat ek net eers vir jou vertel wat die Israeliete met jou volk gaan doen.”

15. Hierdie is wat Bileam die seun van Beor gesien het nadat die Here sy oë oopgemaak het.

16. Dit is hy wat die Almagtige in ’n visioen sien met sy oë wawyd oop en wat voor Hom in gebed neerval.

17. “Ek sien die toekoms, en ek sien die volk Israel. Daar sal ’n koning uit hierdie volk gebore word en hy sal soos ’n ster wees wat helder skyn. Hy sal Moab se leiers verslaan en Set se mense vernietig.

18. Hy sal Edom verower en Seïr, wat nog altyd sy vyand was, se gebied inneem. Hy sal Israel op ’n triomftog lei.

19. “Die regeerder kom uit Jakob. Hy sal die mense uit die stede wat oorgebly het, doodmaak.”

20. Bileam het ook ’n woord vir die Amalekiete gehad: “Amalek was die magtigste nasie van almal, maar sy vernietiging is voor die deur.”

21. Vir die Keniete het Bileam gesê: “Julle bly op ’n baie veilige plek; soos ’n voël wat op ’n rots nes gemaak het.

22. Maar Kain se nageslag sal verdwyn wanneer die Assiriërs hulle as gevangenes wegvoer.”

23. Hierdie was Bileam se laaste uitspraak: “Wie kan bly lewe as God dit nie wil hê nie?

24. Daar kom skepe van Siprus af, hulle sal vir Assirië en Heber aanval, maar hulle sal self ook vernietig word.”

25. Toe is Bileam huis toe en Balak het sy eie koers ingeslaan.

Lees volledige hoofstuk Numeri 24