Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 23:12-29 Die Boodskap (DB)

12. Bileam antwoord toe: “Ek kan tog niks anders sê as wat die Here vir my gesê het nie!”

13. Toe sê Balak vir Bileam: “Kom saam met my na ’n ander plek toe waarvandaan jy net ’n deel van die Israeliete kan sien. Van daar af kan jy hulle dan vir my vervloek.”

14. Hulle is toe na die vallei van Sophim toe tot op die top van die berg Pisga. Daar het Balak weer sewe altare gebou en ’n bul en ’n ram op elkeen geoffer.

15. Toe sê Bileam vir Balak: “Bly jy hier by die brandoffers. Ek gaan so ’n bietjie eenkant toe om te kyk of die Here met my wil praat.”

16. God het toe vir hom gesê: “Gaan nou terug na Balak toe en gee vir hom die boodskap van My af.”

17. Toe Bileam terugkom, het Balak en die amptenare van Moab nog steeds by die brandoffers gestaan. Balak wou toe by hom weet: “Wat het die Here gesê?”

18. Toe antwoord Bileam: “Staan ’n bietjie nader, Balak, seun van Sippor. Luister mooi!

19. God is nie ’n mens nie, daarom lieg Hy nie. Hy gaan nooit terug op sy woord nie. Dink jy God belowe iets en doen dit nie? Het Hy al ooit iets gesê en nie sy woord gehou nie?

20. “God het my beveel om hulle te seën, om sy goedheid oor hulle af te bid. Dit kan ek nie verander nie.

21. “G’n teëspoed sal Jakob tref nie; Israel sal nie swaarkry nie, want die Here hulle God is by hulle. Hulle is baie opgewonde omdat Hy hulle koning is.

22. “God het hulle uit Egipte laat trek en Hy veg vir hulle met sy reusekrag wat g’n gelyke ken nie.

23. “Geen towerspreuk kan iets aan Jakob doen nie. Geen waarsêery het enige krag oor Israel nie. “Van nou af sal die mense oor Israel praat en sê: ‘Kyk wat het God alles vir hulle gedoen!’

24. Die volk Israel is soos ’n magtige leeu wat nie gaan lê totdat hy sy prooi verskeur en kant en klaar opgevreet het nie.”

25. Toe sê Balak vir Bileam: “As jy dan nie hierdie volk gaan vervloek nie, mag jy hulle ten minste ook nie seën nie.”

26. Bileam antwoord: “Ek het mos vir jou gesê ek kan net doen wat die Here my toelaat om te doen.”

27. Toe sê Balak vir Bileam: “Kom ek vat jou na nog ’n ander plek toe. Miskien sal God dat jy hulle van daar af vervloek.”

28. Hy vat hom toe na die top van die berg Peor toe wat oor die woestyn uitkyk.

29. Bileam sê toe weer vir hom: “Bou vir my sewe altare en bring sewe bulle en sewe ramme hiernatoe sodat ons hulle kan offer.”

Lees volledige hoofstuk Numeri 23