Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 15:7-28 Die Boodskap (DB)

7. en een en ’n half liter wyn wat as ’n drankoffer saamgebring moet word. Dan sal die offer se geur vir My aanvaarbaar wees.

8. “As dit ’n jong bul is wat as brandoffer of ’n ander diereoffer vir My aangebied word om ’n belofte na te kom wat aan My gemaak is, of as ’n eteoffer,

9. dan moet die graanoffer wat daarmee saamgaan, bestaan uit vier en ’n half kilogram meel gemeng met twee liter olyfolie.

10. Bring ook twee liter wyn vir die drankoffer saam. Ek hou van so ’n vuuroffer se geur.

11. “Elke bul en elke ram en elke skaap- of bokram moet aangebied word soos Ek nou vir julle voorgeskryf het vir die offer.

12. As daar meer as een dier geoffer word, moet die ander offers van meel en wyn ook volgens die aantal diere vermeerder word.

13. Elke Israeliet is verplig om hierdie offer volgens my voorskrifte aan My te bring. Dan is dit vir My aanvaarbaar.

14. As daar iemand is wat van ’n ander volk is en by julle bly, of dit nou tydelik of permanent is, en daardie persoon wil ook ’n offer bring wat vir die Here aanvaarbaar is, geld dieselfde reëls.

15-16. Vir almal wat ’n offer wil bring, geld presies dieselfde reëls. Hierdie reëls bly ook in die toekoms geldig vir Israeliete en die persone van ’n ander afkoms wat by julle bly.”

17. Die Here het verder vir Moses gesê:

18. “As julle in die land Kanaän aankom

19. en julle eet brood van die graan wat julle daar geoes het, moet julle onthou om vir die Here ’n offer te bring.

20. Van die heel eerste growwe meel wat julle maal om brood te bak moet julle vir die Here ’n brood bak as ’n spesiale geskenk van dank vir die oes wat Hy julle gegee het. Dit is julle offer wat van die dorsvloer af kom.

21. Hierdie gebruik om die eerste growwe meel van die oes aan My te offer moet ook in die toekoms deur julle kinders nagekom word.”

22. “Dit kan dalk gebeur dat een van julle ’n fout maak en nie al hierdie reëls nakom wat die Here vir Moses gegee het nie.

23. Of dat julle kinders dalk in die toekoms per ongeluk nie alles doen soos die Here dit wil hê nie.

24. Dan moet die hele volk bymekaarkom en ’n jong bul as ’n brandoffer en ’n bokram aan die Here offer om te wys hulle is jammer oor hulle sondes. Hulle moet dit offer saam met die gewone graan- en drankoffers. As hulle dit doen, sal die Here hulle sondes vergewe.

25. Verder moet die priester ook namens die volk by die Here verskoning vra vir wat hulle verkeerd gedoen het. Dan sal die Here hulle vergewe omdat hulle nie moedswillig die sonde gedoen het nie en omdat hulle die offers gebring het wat die Here voorskryf.

26. Almal wat verkeerd gedoen het, sal vir hierdie fout vergewe word, Israeliete sowel as persone van ander afkoms wat by hulle bly.

27. “As dit net een mens is wat onwetend ’n sonde gedoen het, moet die persoon ’n jaaroud bokooi bring as teken van berou.

28. Die priester moet namens die persoon vir die Here om verskoning vra, waarna die Here die persoon sal vergewe.

Lees volledige hoofstuk Numeri 15