Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 15:2-3-12 Die Boodskap (DB)

2-3. “As julle in die land kom wat Ek vir julle gaan gee om in te bly en julle wil brandoffers en slagoffers vir My bring, is daar sekere voorwaardes wat julle moet nakom. So ’n offer mag ’n vrywillige offer wees, of ’n offer omdat iemand ’n belofte aan My gemaak het, of selfs ’n offer wat julle by een van die feeste vir My wil bring. So ’n offer moet dan ’n dier uit julle kuddes wees, ’n bees of een van julle kleinvee. Dit is al wat Ek sal aanvaar.

4. Die persoon wat so ’n offer vir My bring, moet daarmee saam ook vir My ’n graanoffer bring, wat bestaan uit een en ’n half kilogram meel, gemeng met ’n liter olyfolie.

5. Saam met elke lam wat as ’n brandoffer of ’n slagoffer aan My geoffer word, moet julle ook ’n liter wyn as drankoffer saambring.

6. “As dit ’n ram is wat geoffer word, moet die graanoffer bestaan uit drie kilogram meel gemeng met een en ’n half liter olyfolie,

7. en een en ’n half liter wyn wat as ’n drankoffer saamgebring moet word. Dan sal die offer se geur vir My aanvaarbaar wees.

8. “As dit ’n jong bul is wat as brandoffer of ’n ander diereoffer vir My aangebied word om ’n belofte na te kom wat aan My gemaak is, of as ’n eteoffer,

9. dan moet die graanoffer wat daarmee saamgaan, bestaan uit vier en ’n half kilogram meel gemeng met twee liter olyfolie.

10. Bring ook twee liter wyn vir die drankoffer saam. Ek hou van so ’n vuuroffer se geur.

11. “Elke bul en elke ram en elke skaap- of bokram moet aangebied word soos Ek nou vir julle voorgeskryf het vir die offer.

12. As daar meer as een dier geoffer word, moet die ander offers van meel en wyn ook volgens die aantal diere vermeerder word.

Lees volledige hoofstuk Numeri 15